LUR wil N1-spitsverkeerongeluk in Kaapstad ondersoek

Foto: Zain Johnson/EWN

Foto: Zain Johnson/EWN

Robin Carlisle, die LUR vir vervoer in die Wes-Kaap, het Woensdag gelas dat ‘n vragmotorongeluk, wat Dinsdagmiddag tydens spitsverkeer op die N1 in Kaapstad plaasgevind het, ondersoek moet word. Dié ongeluk het chaos op die paaie in die gebied veroorsaak.

ʼn Man, in sy veertigs, is ernstig beseer toe ʼn groot ysterhouer bo van ʼn vragmotor afgeval en op sy wit bakkie te lande gekom het. “Die man was onder die houer in sy voertuig vasgekeer,” het Christo Venter, ʼn woordvoerder van ER24, gesê. Volgens Venter wou die vragmotor onder deur ʼn brug naby Woodstock ry, maar die houer was te hoog vir die brug en dit is bo van die vragmotor afgestamp.

“Brandweerbeamptes moes die man onder die houer uitsny terwyl paramedici bygestaan het om die man te stabiliseer. Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem nadat hy bevry is,” het Venter gesê.

Die ongelukstoneel het verskeie bane van die hoofweg versper en verkeer in die gebied het tot ʼn stilstand gekom. Verkeer uit die middestad  in die rigting van Paarl was veral hierdeur geraak.

Volgens Carlisle moet die swaarvoertuig ondersoek word, aangesien die voertuig moontlik per ongeluk van sy roete afgewyk het en sy vrag te hoog gelaai was. “Voorlopig wil dit ook voorkom of die swaarvoertuig deur ʼn ander voertuig vergesel moes word,” het Carlisle gesê.

Kenny Africa, verkeershoof in die Wes-Kaap, het gesê swaarvoertuie met abnormale vrag mag nie sonder begeleiding ry nie, berig EWN. “Indien die vragmotor met sy abnormale vrag begeleiding gehad het, en die voertuig voor hom uitgery het, sou hulle gesien het dat die vrag nie onder die brug gaan inpas nie, en sou die ongeluk nie plaasgevind het nie,” het Africa aan EWN gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.