Lutzkie probeer heli-raaisel verklaar

Lutzkie se Augusta A119-helikopter Foto: Volksblad

Frikkie Lutzkie, ‘n sakeman van Mpumalanga, blameer die brandstofmeter as die oorsaak van sy noodlanding met sy Augusta A119-helikopter onlangs in die Noord-Kaap.

Volgens Lutzkie, ‘n bekende bokser, het die brandstofmeter aangedui daar is nog 156 liter in die tenk toe die enjin in die lug gestaak het, maar daar was slegs 37 liter brandstof in die tenk toe ‘n span tegnici die petroltenk na die noodlanding oopgemaak het. “Daar is altyd 37 liter in die tenk oor sodat daar nie water en vuiligheid in die enjin beland nie. Dit staan bekend as onbruikbare brandstof,” het Lutzkie verduidelik. “Ek het van dag een af gesê ek het sonder brandstof geval.”

Verskeie gerugte het die rondte gedoen na dié noodlanding op 18 Mei 2012. Lutzkie het dié gerugte afgelag, berig Rapport. Van dié gerugte sluit in dat Lutzkie deel was van renosterhoringsmokkelary, of dat ‘n verdoofde luiperd aan boord wakker geword het en die situasie die vlieënier gedwing het om te land. “Ek het by Askam geval. As jy dáár ’n renoster kry, moet jy ’n watertenk op sy g*t vasmaak, want hy gaan nie andersins oorleef nie. En as daar ’n luiperd sou wees, sal sy kolle swart en wit wees soos wat die son hom al verbleik het,” het Lutzkie gespot.

Lutzkie verduidelik hy en die mans in sy familie gaan jaarliks na die Kalahari om “Bybelstudie te doen en om nader aan God te beweeg.” “Daarna gaan jag ons ‘n week lank – sonder vrouens, sonder ander vrouens, en sonder drank,” het hy bygevoeg. Lutzkie verduidelik dit was op een van dié jagtogte dat die enjin onklaar geraak het.

Lutzkie het self die lemme en voetstutte afgesaag. “Ek het 2 km van huisies af geval. Die lemme weeg 100 kg elk. Sou ’n kind kom en die heli se knoppie druk om dit aan te skakel, slaan daardie lemme hom morsdood.” Hy het ook die helikopter gekamoefleer om dit so onopsigtelik moontlik vir kinders te maak en om die tuig “uit die sig van ander helikopters te hou, omdat daar onder meer R160 000 se radiotoerusting aan boord was.”

Lutzkie het onlangs ook die nuus gehaal toe hy drie ontkleedanseresse vir sy seun se 16de verjaardag gehuur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.