Lydenburgse kraanwater glo besmet

AfriForum is besorg oor die gesondheid van Lydenburgse inwoners nadat uitslae van toetse op watermonsters glo op die teenwoordigheid van E.Coli in die dorp se kraanwater gedui het.

Volgens Leon de Jager, voorsitter van AfriForum se Lydenburg-tak, word rioolprobleme al ’n geruime tyd ondervind, wat aanleiding gee tot besorgdheid oor die gemeenskap se gesondheid. “In die lig van die kwellings wat rondom gesondheid ontstaan het as gevolg van die munisipaliteit se gebrekkige dienslewering en onlangse rioolstortings, was ons genoop om watermonsters van die watertoevoer na ons huise en op ander strategiese punte te neem om die risikofaktor te bepaal,” het De Jager gesê.

AfriForum het die monsters by ’n laboratorium, wat by die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (Sanas) geakkrediteer is, vir analise ingedien. “Die E. Coli-telling van monsters wat uit die Sterkspruit geneem is, sowel as van monsters wat van ons huise afkomstig is, het die maksimumvlakke oorskry. Die E. Coli-vlakke laat besorgdheid oor menslike gesondheid ontstaan,” het De Jager gesê. “Dienslewering van die Thaba Chweu-munisipaliteit is nie op standaard nie en laat kommer ontstaan of die watersuiweringsaanleg na behore bestuur word. Behandeling met chloor sal help om die vlakke van die E. Coli-bakterie te verlaag, maar die watermonsters wat geneem is, toon dat die water nie doeltreffend behandel word nie,” het De Jager gesê.

AfriForum dring daarop aan dat die munisipaliteit die gemeenskap oor die gesondheidsrisiko waarsku en onmiddellik skoon drinkwater aan die gemeenskap voorsien. Die munisipaliteit moet ook vorendag kom met ’n aksieplan waarin aangedui word watter stappe geneem sal word om die probleem op te los en waarin hy hom tot sperdatums vir die onderskeie stappe verbind. “As die plan nie volledig is nie, sal verdere stappe teen die munisipaliteit geneem word,” het De Jager gesê. De Jager het gesê AfriForum sal die situasie bly monitor.

Suzan Magagula, speaker van die Thaba Chweu-munisipaliteit, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linky Ras ·

*ek verkies om anoniem te bly dankie –

Ek is uiters disgusted met ons kraan water op hierdie stadium is my hele huisgesin plat met ‘n vreeslike maagvirus – dan wil die blerrie munisipaliteit nog mense se krag sny oor hulle nie hulle water rekenings betaal nie – mense sal hulle rekenings begin betaal as ons veilige en skoon gesonde water het

Thaba Chweu moet wakker skrik en begin na ons dorps mense kyk en nie net na Mashishing se mense nie
Hierdie wat ons krag daagliks af is en mense sonder water sit in Lydenburg dorpsgebied is ook onaanvaarbaar want dis net hier in lydenburg maar nie in mashishing nie en almal se die munisipaliteit word gedreig as hulle mashishing se krag of water sny dat hulle hulle families gaan dood maak of die munisipaliteit afbrand

My man kan nie bekostig om siek te word geen een van ons dorpsmense se mans kan siek word nie want hulle is die broodwingers en sonder hulle kan die dorp ook nie bestaan nie

So ek se weereens Thaba Chweu begin na ons ook te kyk want op die oomblik is ek so vies dat ek ook sommer net iets mag doen – ek kan ook dreig

Dries Strydom ·

Die munisipaliteit het geen fondse om enige plan te maak nie. Hulle is besig om kaders te ontplooi as Burgermeester, net om hom na drie maande – soos vooraf ooreengekom – met ‘n Goue handdruk plek te laat maak vir die volgende een. Verbruikers het in Thaba Chwue totaal die melk-koei vir ANC amptenare geword. As besighede hulle onttrek van uitvoering van noodsaaklike dienste en onderhoud, verval hierdie minisipaliteit in een dag. Die swart woongebiede gaan ‘n nagmerrie wees.

Henry Collins ·

Graag bring ek dit onder u aandag dat ek ‘n Afrikaanse webblad opgestel het, om kraanwater parasiete van elke woongebied en dorp in Suid Afrika daarop aan te bring. Kyk gerus http://www.kraanwater.co.za. U moet asseblief Google gebruik en nie Yahoo of Firefox nie. Die webblad is die verbruiker sin en elkeen van ons kan ‘n rol speel. My sel is 082 269 0210. Henry Collins.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.