Lyk in British Airways-vliegtuig gevind

Die liggaam van ‘n man is in ‘n British Airways Boeing 747 wat by Heathrow-lughawe geland het, opgespoor.

Die man se liggaam is Donderdagoggend omstreeks 07:25 in die landingstoerustingkompartement opgespoor nadat die vliegtuig van Kaapstad in Londen geland het, berig BBC. British Airways is tans in gesprek met Suid-Afrikaanse owerhede om die voorval te bespreek. “Dit is ‘n baie seldsame en hartseer voorval en ons innige simpatie aan die individu se gesin,” het ‘n woordvoerder gesê.

Die man se afsterwe word tans as onverdag ondersoek. Hulle probeer egter steeds die man se identiteit bepaal.

Volgens die polisie in Suid-Afrika was die liggaam dié van ‘n man wat nie ‘n lid van die vliegtuig se bemanning of ‘n passassier was nie. Vermoedelik is dit dieselfde man wat Woensdag oor ‘n heining by Kaapstad Internasionale Lughawe gespring het en na dié vliegtuig toe gehardloop het.

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) sê hulle ondersoek die saak. “Die lughawe het onmiddellik reageer en toe ‘n sekureitsbeampte die man probeer vang het, het hy in die rigting van die British Airways-vliegtuig gehardloop wat gereed was om op te styg. Vir veiligheidsredes kon die sekuriteitsbeampte nie nader gaan nie. ‘n Soektog is dadelik uitgevoer, maar die man kon nêrens opgespoor word nie,” het ‘n woordvoerder van Acsa bygevoeg. “British Airways is dadelik in kennis gestel van die voorval.”

Londen se Heathrow-lughawe het Donderdagoggend bevestig hulle het ‘n verstekeling op ‘n British Airways-vliegtuig opgespoor. Die persoon was reeds dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.