Lyke vir R800 verkoop: Slagoffer praat van traumatiese ervaring

Wyle Danie Groenewald.

Wyle Danie Groenewald.

Kittie Groenewald, die vrou van wyle Danie Groenewald, het Vrydag aan Maroela Media vertel deur watter trauma sy gegaan het nadat haar man se liggaam glo sonder toestemming uit die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal aan ʼn begrafnisondernemer oorhandig is wat glo nie eens ʼn kantoor met liggaamstoorgeriewe het nie.

Danie is op Donderdag 28 Maart, voor die Paasnaweek, weens kanker in die hospitaal oorlede. Kittie en haar twee dogters, Ronel (35) en Marita (33), was by hul pa toe hy heengegaan het.

“Ons was nie seker wat om te doen ná sy dood nie en om dinge te bemoeilik was dit langnaweek so verskeie begrafnisondernemers was gesluit,” het Kittie aan Maroela Media gesê. “Die suster, wat die hele week lank wat Danie in die hospitaal was, in beheer was, het vir ons gesê ons hoef nie bekommerd te wees nie, hulle sal sy liggaam daar stoor totdat ons die nodige reëlings getref het en die Dinsdag ná die langnaweek die doodsertifikaat van binnelandse sake kon kry,” het sy gesê.

Kittie het gesê die Vrydag ná Danie se dood het nagenoeg 30 begrafnisondernemers haar oorval soos aasvoëls. “Ek weet nie waar hulle my inligting gekry het nie. Ek wou nie sommer enige ‘fly by night’-begrafnisondernemer gebruik nie. Ons bly al 30 jaar in Roodepoort en ek weet hier is onder andere ʼn Avbob, van wie se dienste ons gebruik wou maak, ons kon net nie hul nommer in die hande kry nie.”

Kittie sê sy en haar gesin het Vrydag in die omgewing rondgery en die nommers van ʼn paar bekende begrafnisondernemers neergeskryf met die doel om hulle te bel en te hoor of hul dienste verrig oor die langnaweek.

“So kom ons toe af op ʼn lykswa van RAFS Funeral Services wat langs die pad gestaan het. Ons het ‘n kwotasie aangevra en hul adres gevra.” Volgens Kittie het die vrou, Alison, wat die voertuig bestuur het, beweer hulle het nie kantore nie, en gebruik internettoegang  om uit hul voertuig die onderneming te bedryf. Kittie sê verder Alison beweer hulle het reëlings by lykshuise om die lyke te stoor en dat hulle ook met die slagpale in die gebied ‘n reëling het waar Danie se liggaam gestoor sou word. “Ek het besluit in daardie geval verkoop ek eerder my diamantring om vir my man ʼn goeie begrafnis te reël,” het Kittie gesê.

Die volgende dag [Saterdag] het die onderneming Kittie gebel en gesê hulle het Danie se liggaam gaan haal en hy is by Sebokeng gestoor. Kittie wou weet wie toestemming gegee om die liggaam te gaan haal, want volgens wet moet daar glo iemand van die familie by wees met die nodige dokumentasie voordat ʼn liggaam vrygestel kan word. “Niemand van ons familie het dit gedoen nie,” het Kittie gesê. Volgens haar het die onderneming geantwoord hulle het ‘kontakte’. “Hulle het op ʼn manier Danie se ID-nommer bekom en dit gebruik om sy liggaam te gaan haal.”

Kittie het daarop aangedring dat sy nie van hul dienste gebruik wil maak nie en dat sy dieselfde dag nog Danie se liggaam by ʼn geloofwaardige plek wil hê. “Ons het intussen AVBOB in Roodepoort in die hande gekry en hulle het gereël dat die liggaam na hul tak in Alberton geneem kan word, totdat ons die doodsertifikaat bekom het en Danie hier begrawe kon word. RAFS eis toe R800 vir kamstige ontslag- en stoorkoste, al was sy liggaam net twee ure lank in Sebokeng. Ons het dit toe maar via AVBOB betaal, want ons het nie meer krag gehad vir drama nie,” het sy bewoë gesê.

AVBOB het uiteindelik Danie se liggaam gaan haal, die R800 betaal, en hy is op 5 April by die Sterkfontein-begraafplaas ter ruste gelê.

Kittie se regsadviseur het met die hospitaalbestuur in verbinding getree nadat die liggaam sonder toestemming aan die begrafnisondernemer oorhandig is. Ná ʼn uitgerekte ondersoek van die forensiese eenheid van die Gautengse departement van finansies, het die saak uiteindelik by die departement van gesondheid in Gauteng opgeëindig wat onderneem het om die saak behoorlik te ondersoek.

Alison Smith, die eienaar van RAFS, het Vrydag aan Maroela Media gesê haar onderneming is nou een jaar oud, en dat sy glad nie ‘kontakte’ by die hospitaal het nie. Sy het ten sterkste ontken dat sy enigsins geld betaal het aan die hospitaal om Danie se liggaam te kry. Sy beweer sy het ʼn mondelingse ooreenkoms met die Groenewalds gehad, aangesien hulle die Vrydag  alles bespreek het toe hulle haar by haar voertuig genader het, en dat hulle in daardie stadium Danie se ID-nommer verskaf het. Sy ontken ook dat Danie se liggaam by Sebokeng gestoor is. “Die liggaam is in Alberton gestoor by ʼn lykshuis waar ons onderneming spasie huur,” het Smith gesê. Sy sê die onderneming word uit haar huis bedryf en wanneer hulle ʼn liggaam ontvang, word dit by die spasie, wat sy in Alberton huur, gestoor. Sy het gesê die R800 was vir stoor- en vervoerkostes. “Ek moet ʼn daaglikse stoorfooi betaal, selfs al word ‘n liggaam net vir twee ure lank gestoor.”

Smit sê verder sy het haar volle samewerking aan die forensiese ondersoekspan gegee, en dat sy  ʼn kind van God is wat mense vertrou, en nie geweet het die saak gaan só uitdraai nie. Sy het Kittie vrede toegewens en hoop dat sy genesing sal vind. Sy blameer korrupsie by die hospitaal vir die misverstand.

Maroela Media het Maandag berig dat bewerings van lyke wat by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg verkoop word, ondersoek word. Lees meer hier.

Drie werknemers is vandeesweek by die hospitaal na ander eenhede oorgeplaas hangende ’n ondersoek na bewerings dat hulle glo twee lyke “verkoop” het.

Hope Papo, Gautengse LUR vir gesondheid, het gesê die hospitaal het ’n voorlopige ondersoek gedoen en is besig met ʼn omvattende forensiese inspeksie. ’n Forensiese oudit word ook deur die Gautengse ouditdienste gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marie-Louise Seegers ·

Niemand verdien hierdie tipe van verdriet verder na afsterwe van ‘n Geliefde….Ek self het baie geld aan ‘n ondernemer betaal, en gedink my Man was alreeds veras met die Verassingsdiens wat gehou is, net om uit te vind dat sy Liggaam vir twee maande rongeswerf het van een ondernemer se vekoelingskaste na ‘n ander en reeds al begin ontbind het! Die person het ook geriewe gehuur by ander ondernemers.Iemand wat die Diens bygewoon het het op die lyk afgekom en ons as Familie is in kennis gestel. Die man wat die bedrog gepleeg het was so beskerm in die gemeenskap.!!…nietemin het hy ‘n Jaar en half later sy eie lewe geneem. Ons was nie die enigste geval nie. Ek wonder nou nog wie se as is aan my oorhandig? Als is so siek! Gesondheidsdienste? wat ‘n klug. Wetteloosheid seevier op alle gebiede.

Petrus ·

Uhm? Ek verstaan nie? Reelings met slagpale? Is dit hoekom die vleis so snaaks proe?

Paul Smth ·

Sjoe!! Petrus dit is darem ‘n sleg opmerking van jou kant. Mense soos jy sê en doen dinge voordat hulle dink, sit liewer ‘n wag voor jou mond en hou op om enigiets te skryf.

Helene ·

Ek stem saam met jou Petrus, SLAGPALE?????? Wat op aarde? Lê die lyke nou maar saam met die karkasse en wat nog alles?

Linda Van Rooyen ·

Petrus ek stem saam – slagpale??? dit is skokkend om die minste te sê – ek stem ook saam baie keer het vleis ‘n smaak – en dit beteken nie dat dit saam met n lyk gestoor is nie – maar dit laat ‘n ou tog nou wonder. My opinie is baie kere word mense uitgebuit met dood, trou en matriek afskeid – ek glo daar is mense wat die ‘situasie’ uitbuit tot hulle eie voordeel want hulle weet jy wil net die beste hê vir jou geliefdes dus kan hulle enige prys vra en jy sal betaal.

Ans Jacobs ·

Ai, Kittie….my hart gaan uit na julle toe…sooo jammer julle het nou hierdie soort herinneringe ook om te verwerk…kry ware troos en berusting en vergewe alle skuldiges sodat julle groot VREDE in julle harte kan kry. STERKTE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.