M-Net vra om verskoning

Betaalkanaal M-Net het Donderdag om verskoning gevra nadat hulle glo ʼn televisieprogram met volwasse materiaal tydens ʼn “kindervriendelike tyd” uitgesaai het.

“M-Net vra om verskoning dat die insetsel “Hollywood’s Best Directors” Sondag 21 Oktober op sy hoofkanaal uitgesaai is,” het Lani Lombard, woordvoerder vir M-Net, in ʼn verklaring gesê.

M-Net is met R20 000 vir die oortreding beboet.

M-Net vra ook om verskoning dat hulle ʼn episode van die minireeks “Bag of Bones”, wat in die rillergenre val, een maand vantevore op sy M-Net Movies One-kanaal uitgesaai het.

“Die uitsaai van onvanpaste inhoud op enige van ons kanale is nie ʼn gewoonte nie, en dit is ʼn ernstige oortreding binne die maatskappy wat onmiddellike interne ondersoeke verg,” het Lombard gesê.

Volgens Lombard het die maatskappy sekere maatstawwe in plek gestel om te voorkom dat die fout weer gebeur, selfs nog voordat die Uitsaaiklagtekommissie (BCCSA) oor die klagtes ʼn uitspraak gelewer het.

“M-Net aanvaar, sonder enige beperkinge, die uitspraak van die BCCSA in beide sak sowel as die sanksies wat toegepas is,” lui die verklaring.

Die BCCSA het vroeër gesê hy het ʼn klagte van Gareth Eggers oor die uitsending ontvang. Eggers het die BCCSA genader omdat die program slegs PG13 (ouertoesig vir kinders onder 13 jaar) gemerk was. “Daar is talle stilfoto’s uit die betrokke regisseurs se vorige rolprente wat vroulike naaktheid [borste], geïmpliseerde seks, sowel as een geval van vroulike geslagsdele [die berugte Sharon Stone-oomblik in Basic Instinct] vertoon is,” het Eggers in sy klagte geskryf.

“Dit is vir my onaanvaarbaar en nalatig dat dit op ʼn Sondag tydens gesinstyd uitgesaai is,” het Eggers gesê.

Die program is om 11:30 uitgesaai.

M-Net het in sy reaksie gesê dat een van sy werknemers, wat vir die programskedule verantwoordelik is, nalatig was om die program in daardie tyd uit te saai.

M-Net vra om verskoning aan Eggers en het gesê die betrokke werknemer is gedissiplineer.

Eggers het skrywe wat hy van MultiChoice, M-Net se sustersmaatskappy, af ontvang het, as “skokkend” beskryf. MultiChoice het aangevoer dat hy nie verantwoordelik gehou kan word nie, en Eggers aangeraai om ouertoesig op sy stelsel te aktiveer.

MultiChoice het later, voor die BCCSA, om verskoning gevra en gesê die skrywe is deur ʼn werknemer uitgereik wat nie toestemming het om dit te doen nie.

Die BCCSA het sy waardering uitgespreek vir die maatreëls wat M-Net in plek gestel het om die kans op ʼn soortgelyke fout te verminder. “As mens die aantal kanale in ag neem wat deur M-Net bestuur word, stem ons saam dat dit merkwaardig is dat meer foute nie plaasvind nie,” het die BCCSA gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.