Ma “boelie” dogter met foto

Hailey Schneider

Hailey Schneider

ʼn Ontstoke ma van North Carolina in Amerika het groot reaksie uitgelok nadat sy haar dogter op sosiale media verneder het.

Cara Schneider het haar dogter, Hailey, gedwing om met ʼn plakkaat vir ʼn foto te poseer. Op die plakkaat staan geskryf: “My naam is Hailey. Ek is ʼn goedhartige, goedgesinde, slim meisie, maar ek maak swak besluite met sosiale media. As straf, verkoop ek my iPod en sal die opbrengs aan die organisasie Beat Bullying skenk, in ʼn poging om my gedrag te verander en om bewusmaking te skep oor afknouery. Dit is verkeerd om iemand te boelie.”

Dié vernederende foto is op die ma se Facebook-blad gelaai, berig The Examiner. Die foto het opslae gemaak op die internet nadat dit op Reddit beland het. Sommige gebruikers het Schneider ondersteun, maar ander voer aan sy is besig om self haar dogter te boelie.

Schneider het haar optrede verdedig en gesê sy probeer net haar bes. Sy het later op haar Facebook-blad bekend gemaak dat sy al ander metodes probeer het om Hailey te straf, maar dat dit nie gewerk het nie. Sy het ook nie gedink dat die foto soos ʼn veldbrand sou versprei nie, en het dit afgehaal net nadat die iPod verkoop is. “Onthou, jy sien net ʼn foto, jy ken nie ons storie nie,” het sy gemaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Madelaine ·

Ek voel dit was nie so erg nie. Kinders van vandag ontbreek respek en dissipline en as dit die enigste manier is om hulle wakker te klap dan sou ek dit ook doen. Ek het al gedreig om n foto van my kids se kamer op fb te sit, want ek is die ouer en nie die slaaf wat heeltyd agter hulle moet skoonmaak nie. Ons is gefoeter maar vandag is als mos onwetlik!

AmY ·

Wel, die ma het alles probeer, en die kind het nie geluister nie. En jy mag mos nie vandag se ‘weerlose bloedjies’ slaan nie. En om haar te hok het duielik ook nie gewerk nie. Sy het aanhoudend ‘swak besluite geneem’. En is daai kind nie bietjie jonk vir sosiale media nie?

En ja, waarom die ma veroordeel? Hulle ken nie hulle storie nie.

EyesEars ·

Ek stem saam met jul al 3. Sien ook Barend se punt in. Wens net ons kon die storie agter die die storie kry, sodat ons as mens ook kan “leer” daaruit om moontlik ander voorstelle van disipline te kan bestudeer en of saam kyk na ‘n moontlike oplossing. Dit is duidelik dat beide die ma en dogter gefrustreerd is met die een die ander. Elke huis het sy kruis en soms is dit bitter moeilik vir beide ouers en kinders, afhangende van die omstandighede.

Dan ·

Foeitog, nou het die ma kamstig die kind geboelie. Niks werk so goed vir ‘n kind as ‘n pak slae nie, en ek gee werklik nie om wie van my verskil nie. Die Bybel sê dat die roede nie gespaar moet word nie en dit is so waar. Wat die sosiale media betref – dit is een van die grootste euwels deesdae in die samelewing. Volwasse mense raak daaraan verslaaf, hoeveel groter is die risiko van verslawing van kinders dan? Ek weet van hoeveel mense wat aan hierdie nonsens verslaaf is, huwelike wat opgebreek is as gevolg daarvan, ens. Hou kinders weg daarvan! As jou kind op die sosiale netwerke boer, wat sien hy of sy ook daar – die vuilste grappe asook pornografie! Is dit waarmee kinders hul besig moet hou?

Petra ·

Hierdie foto het onlangs ook op my “FB Wall” verskyn en met ‘n sterk gevoel van misnoee het die gedagte onmiddellik by my opgekom dat ek geensins kan ondersteun wat hierdie ma gedoen het as straf vir haar dogter se beweerde verkeerde gedrag nie. Ons kinders moet wel opgevoed en dissiplineer word deur duidelike grense te stel en hulle te betugtig op aanvaarbare en redelike wyses wanneer nodig, maar om jou eie kind so erg op ‘n publieke domain te verneder en bloot te stel, amper asof om haar vir die wolwe te gooi, kan net nie konstruktief of enigsins opbouend wees nie! Ek stem gevolglik saam dat dit basies ook neerkom op boelie-gedrag van haar ma se kant af en dalk as ‘n rolmodel vir haar dien? Daar is verseker ander vorme van straf wat redeliker en doeltreffend behoort te wees. Dit moes reeds erg genoeg vir die tienermeisie gevoel het dat haar iPod verkoop is, wat ek ook as ekstreem beskou. Om haar vir ‘n sekere tyd belet het om dit te gebruik deur haar daarvan te weerhou, kon in sigself dalk reeds voldoende straf gewees het. En om jou kinders te straf, beteken beslis nie om hulle in die openbaar af te breek en te etiketeer nie. Myns insiens dui dit op swak ouer vaardighede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.