Ma en baba sterk aan ná sypaadjie-geboorte

Nomsa Mathebula en haar babaseuntjie, Sebathle Foto: Barry Bateman, EWN

Die departement van gesondheid het Woensdag gesê dat hy die kliniek in Soshanguve, waar ʼn vrou gedwing is om op die sypaadjie geboorte te skenk, gaan ondersoek.

Die departement sê die wyse waarop Nomsa Mathebula hanteer is, is onmenslik en onaanvaarbaar, berig EWN. Verpleegsters by die kliniek het Mathebula glo weggewys nadat sy Donderdag wou kraam en gesê dat sy eerder na ʼn groter hospitaal toe moet gaan, aangesien haar bloeddruk te laag was. Sy het egter buite die hospitaal ineengestort en op die sypaadjie gekraam.

Na bewering het van die verpleegsters geweier om haar te help, ten spyte daarvan dat omstanders hulle gepleit het om te kom help. Simon Zwane, woordvoerder van die departement van gesondheid, het gesê die departement beskou die saak in ʼn ernstige lig. “Ons dink die situasie kon beter hanteer word. Hulle moes self ʼn ambulans gebel het, eerder as om haar net weg te wys,” het Zwane gesê.

Mathebula het aan EWN gesê dit was vernederend. Sy sê verpleegsters by die kliniek het daarop aangedring dat sy iewers anders heen gaan, selfs nadat haar water gebreek het. “Ek het nie krag gehad nie, want ek het baie bloed verloor. Ek het net daar op die sypaadjie gaan sit en begin kraam,” het Mathebula gesê. “Die gemeenskap het die verpleegsters geroep, maar hulle het gesê hulle werk nie buite die hospitaal nie.”

Die verpleegsters het haar eers begin help toe iemand die polisie ontbied het.

Mathebula en haar babaseuntjie is gesond nadat hulle die naweek in die hospitaal deurgebring het.

Lees ook:
Vrou moet op sypaadjie geboorte skenk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.