Ma en kind sterf, vier vermis ná visvanguitstappie

Foto: NSRI

ʼn Grootskaalse soektog vir vier mense is naby Plettenbergbaai onderweg nadat ʼn visvanguitstappie tragies geëindig het.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is hulle Donderdagaand omstreeks 20:30 ingelig dat ʼn klein vissersboot nie ná ʼn visvanguitstappie op die Keurboomsrivier teruggekeer het nie. ʼn Soektog na die boot met vier mans, ʼn vrou en haar 8-jarige seun, is van stapel gestuur. Na wat verneem word, is almal inwoners van Plettenbergbaai.

Die liggaam van die vrou is gedurende die soektog by die riviermond opgespoor. Die soektog moes egter weens swak lig uitgestel word. Dit het Vrydagoggend vroeg hervat waarna die liggaam van die kind ook by die riviermond opgespoor is.

Volgens Deon Truter, die stasiebevelvoerder van die NSRI in Plettenbergbaai, vermoed hulle die vermiste boot en mans het moontlik in die diepsee beland. “Daar is geen ooggetuies nie en dit is nog nie bekend wat presies gebeur het nie,” het Truter gesê.

Die NSRI se reddingspanne, die polisie, die polisie se duikeenheid, Wes-Kaapse nooddienste asook die Skymed-helikopter is op die toneel om na die vermiste mans en boot te soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.