‘n Ma van Pretoria is die week met haar sesjarige dogter herenig nadat sy vir langer as twee jaar vermis was.
Pretoria News berig dat Thabisa Dongolwane Sondag haar dogter, wat op 25 Maart 2010 vermis geraak het, saam met ʼn ander vrou in die straat in Soshanguve sien stap het. Dongolwane het saam met ander gemeenskapslede die vrou gekonfronteer. Die vrou het egter volgehou dat dit haar kind is. “Ons is toe saam met die vrou na haar huis waarna haar man gesê het ons moet na die polisiestasie gaan.” Die vrou het later by die polisiestasie erken dat sy die kind ontvoer het. Konst. Maanda Singo, ʼn polisiewoordvoerder, sê die vrou het in 2008 ʼn miskraam gehad waarna sy Dongolwane se kind ontvoer het. Die vrou het Woensdag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering. Sy sal volgende week om borg aansoek doen.