Ma in trane oor baba se beserings

‘n Twee maande oue baba wat glo weens mishandeling gesterf het, was “vaak en inskiklik” voordat hy na ‘n hospitaal geneem is, het sy ma Maandag in die Hooggeregshof in Pretoria getuig.

Marissa Rudman (36) en haar voormalige kêrel, Nolan Schoeman (32), is van moord en kindermishandeling aangekla nadat hulle twee maande oue babaseuntjie, Wade, in April 2009 aan kopbeserings dood is in die Steve Biko hospitaal. In haar getuienis het Rudman gesê sy het swelling op Wade se kop opgemerk, ‘n duimmerk op sy voorkop en rooierigheid om sy neus, maar geen ander merke toe sy hom gebad het op die dag waarop hy in die hospitaal opgeneem is nie. Schoeman was egter “in en uit” by die baba se kamer en sy het vermoed hy gebruik dwelms. Toe sy “gehoor het” dat Schoeman die baba seergemaak het, het sy opgespring en gesien hoe Schoeman met ‘n lewelose Wade in sy arms gestaan het. Sy het aan die hof gesê sy het “histeries geraak” en die kamer verlaat. Die baba het toe “op ‘n vreemde manier” geskree. Sy het gedink die baba kry stuipe en het daarop aangedring om hom hospitaal toe te vat. By die hospitaal wou ‘n verpleegster weet of sy Wade laat val het, maar sy het ontken dat dit gebeur het. Schoeman het die verpleegster “byna aangeval” en op haar geskree, het sy getuig. Toe foto’s van Wade aan haar gewys is, het Rudman gehuil en gesê sy het nooit meer as ‘n ligte knop en ‘n duimmerk op haar seun se voorkop gesien nie. ʼn Neurochirurg wat die baba behandel het, het vroeër getuig Wade het twee gebreekte arms, gebreekte ribbes, donker vingermerke aan sy kop en bors en ernstige swelling op die brein gehad. Rudman het getuig die enigste tekens van siekte wat sy gesien het, was ‘n toe neus, “’n bietjie van ‘n asemhalingsprobleem” en dat haar baba gesukkel het om te drink. Sy het getuig sy het nooit gesien dat Schoeman die baba aanrand nie, buiten vir ‘n “ligte houtjie op die boude” en het in haar hart geglo hy het hul seun lief en sal hom nie seermaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.