Ma ontvoer glo haar twee seuns

Pierre (7) en Juliana (10)

Die Vereeniging-polisie het Dinsdag die publiek se hulp ingeroep om ʼn ma op te spoor wat vermoedelik haar twee seuns ontvoer het.

Die ma, Maria Magdalena Japdul Malak, en haar twee seuns, Pierre (7) en Juliana (10), word sedert Desember vermis nadat Maria ná ʼn besoek nie die kinders aan hul biologiese pa terugbesorg het nie. Daar word vermoed dat die kinders in Maria en haar vriend, Joseph Christiaan Grobler, se sorg is.

Volgens ʼn ondersoekbeampte ry die paartjie ʼn wit BMW 1996-model met die registrasienommer JTW337GP. Hulle is glo al in die Oos-Kaap gesien asook in die suide van Johannesburg.

Volgens Maria se eksman is sy glo sielkundig onstabiel en het drie afsonderlike sielkundige- en psigiatriese evaluasies bewys dat sy nie geskik is om na die kinders om te sien nie.

Die ondersoekbeampte het aan Maroela Media bevestig die kinders is as vermis aangemeld. Hy het ook gesê ʼn lasbrief vir Maria se inhegtenisname is uitgereik vir minagting van die hof.

Mense met meer inligting oor waar Maria en haar kinders hulle mag bevind, kan die Vereeniging-polisie skakel by 016 450 2500 of ao. Fitzell by 082 757 4745.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.