Ma pleit ná RSV-diagnose: ‘Hou siek kinders tuis’

Klein Lukas de Beer in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Danielle de Beer, ʼn tuisteskepper en ma van Pretoria, sal ná haar seuntjie se onlangse stryd met die respiratoriese sinsitiale virus (RSV) nooit weer ʼn loopneus of hoesie ligtelik opneem nie.

Danielle en haar man, Marcel, se babaseun Lukas (11 maande) het byna ʼn week lank in die hospitaal deurgebring en in ʼn stadium om sy lewe geveg, nadat hy dié virus vermoedelik by die kleuterskool opgedoen het.

Daarom wil sy opnuut by ouers pleit om nie hul siek kinders skool toe te stuur nie – veral met die koue wintermaande wat voorlê.

Danielle vertel sy het toevallig oor die simptome van RSV begin oplees nadat die kinders van haar ma se vriende daarmee gesukkel het.

“Die kleuterskool het ons twee weke terug in kennis gestel dat ʼn maatjie RSV het. Al het hulle eerlik daaroor gekommunikeer en belowe om nog meer sorgsaam oor die klaskamers se higiëne te wees, het ek hulle mal gemaak met boodskappe. Ek dink dis maar net daai kommer omdat ek geweet het wat kan voorlê.”

Daarom was sy paraat toe klein Lukas simptome soos ʼn “doodnormale loopneusie en hoes” op Maandag 22 April begin kry het.

“Ek en my man het self brongitis gehad kort tevore, so ek het reeds Lukas se asemhaling deur die nag dopgehou. Hy sukkel ook met sy mangels, so ek het ons huisdokter Maandag vir behandeling gekontak.”

Lukas ‘n dag voordat hy opgeneem is in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Teen Dinsdagoggend het Danielle se mammahart geweet daar broei veel meer as ʼn verkoue by Lukas.

“Hy’t so geroggel, asof hy nie genoeg asem kon kry nie. Hy was pap, en dit is nie hoe ek my kind ken nie.”

Daar is met hom na die Life-hospitaal in Groenkloof gejaag, waar hy dadelik op ʼn suurstofmasjien geplaas is. “Hy het vir drie ure aaneen geskree en gehuil en hoe meer ontsteld hy geword het, hoe slegter was dit vir sy asemhaling,” onthou Danielle.

Dokters het hom aanvanklik met brongopneumonie, oftewel ʼn mengsel van brongitis en longontsteking, gediagnoseer. Omdat die hospitaal se pediatriese afdeling reeds vol was, is Lukas nog dieselfde dag per ambulans oorgeplaas na die Raslouw- privaat hospitaal in Centurion.

“Ons het hier ook ʼn wonderlike pediater gehad wat dadelik vermoed het dat dit RSV kon wees. Daar is dadelik bloed getrek vir toetse, en hy is aan ʼn spesiale, sterk suurstofmasjien wat warm lug blaas, gekoppel.

“Daar is net enkele van hierdie masjiene in die hospitale, maar Lukas se toestand was volgens die dokter erg genoeg om dit te regverdig. Sy suurstoftelling was onder 60, in vergelyking met die normale vlak van tussen 95 en 100,” vertel Danielle.

Benewens RSV is Lukas ook met ernstige mangelontsteking en ʼn infeksie wat sy vel rooi en geïrriteerd laat, gediagnoseer.

Ná slegs een aand in Raslouw, is die gesin weer oorgeplaas, dié keer na die Unitas-hospitaal se intensiewesorgeenheid. Net soos by Groenkloof, was daar by dié hospitaal se pediatriese afdeling ook ʼn tekort aan beddens, dié keer in intensiewe sorg.

“Die dokter het my vroeg Woensdagoggend wakker gemaak en gesê sy is bekommerd oor Lukas se toestand. As ʼn ma dink mens die ergste. Die wêreld se gewig het skielik op my skouers neergesak; ek was nog nooit in my lewe so bang nie.”

Lukas en sy ma, Danielle, in die Raslouw- privaat hospitaal. (Foto: Verskaf)

Omdat sy self nog ʼn kuggie gehad het, kon Danielle nie by klein Lukas sit terwyl hy in intensiewe sorg was nie.

“Hulle is vreeslik streng in daardie afdeling, en ek en my man moes vir allerhande virusse getoets word voordat hulle vir ons toegang wou gee. Hy was gesonder as ek, so hy kon saans by Lukas wees, en my ma het deur die dag gehelp,” verduidelik sy.

“Ek was nog nooit so hartseer nie. Om vir byna drie dae van jou siek kind geskei te word, terwyl jy weet hoe hy jou nodig het, is so ʼn magtelose gevoel.”

Op Vrydag 26 April is ma en baba herenig. Lukas is dieselfde dag na die gewone pediatriese eenheid geskuif waar fisioterapie gevolg het. Saterdag kon Lukas ook sonder die hulp van masjiene self begin asemhaal.

Teen Maandag 29 April is die gesin ná “ʼn week uit die hel”, soos Danielle dit beskryf, uiteindelik tuis, maar ʼn lang herstelpad lê nog voor om langtermynskade te voorkom.

“Hy is nou baie meer vatbaar vir siektes en longinfeksies. Die dokters het gewaarsku dat nog ʼn ronde verkoue of brongitis hom weer in die hospitaal kan laat beland,” sê Danielle.

Daarom bly Lukas, wat op 13 Mei een jaar oud word, vir die res van die jaar tuis by sy ma. Speeltyd moet ook mooi gemonitor word om te verhoed dat daar te veel druk op sy ontwikkelende longe geplaas word.

“Ek wil hom nie in ʼn borrel grootmaak nie, maar omdat die winter op pad is, is dit veral belangrik om die skool en winkels so ver as moontlik met hom te vermy.”

Danielle en haar man, wat beide rokers was, het boonop “oornag” sigarette gegroet. “Ons het nooit vantevore in die motor, huis of naby hom gerook nie, maar daar kan nou geen kanse gevat word nie.”

Sy waarsku ander ouers om hulle kinders se simptome mooi te monitor en nie RSV te onderskat nie. Sy het ook begrip en simpatie vir ouers wat sonder mediese fonds moet klaarkom, maar vra dat dié wat dit wel het, eerder vroeër as later hulle siek kinders by die dokter kry.

“Ek dink mense het eenvoudig nie genoeg kennis daaroor nie en vergewis hulself eers daarmee wanneer hulle kinders dit kry. Dán besef jy eers hoe dít wat jy gedink het verkoue was, in ʼn lelike virus verander het.”

Volgens Danielle moet siektes veral in die lig van die Covid-19-pandemie met die nodige erns hanteer word.

“Ek sal nooit weer net ‘aanneem’ wanneer dit by siektes kom nie. Ons plaas mekaar se kinders in gevaar as ons speel met hulle gesondheid.”

Departement, kenners waarsku ook teen RSV

Die departement van gesondheid het Sondag ʼn mediaverklaring uitgereik waarin hul ʼn beroep op die publiek gedoen het om die nodige inentings te kry in aanloop tot die winterseisoen.

Volgens die departement is respiratoriese infeksies soos RSV tans skerp aan die toeneem in die land.

Maroela Media het voorheen berig dat veral babas die RS-virus maklik kan opdoen as hulle blootgestel word aan ouer kinders, soos ’n boetie of sussie in die kleuterskool, waar die virus maklik en onwetend versprei.

“Die ouer kinders sal meestal simptome hê wat lyk soos ʼn verkoue-tipe infeksie met ʼn loopneus en hoes. Babas en kinders onder die ouderdom van twee jaar se risiko is veral hoog omdat hulle lugweë vinniger geblokkeer word, en dit kan hierdie kleintjies baie sieker maak,” het dr. Andries de Jager Booysen, ʼn pediater by die Life Eugene Marais-hospitaal in Les Marais, Pretoria, verduidelik.

Om die virus te bespeur, kan ouers volgens dr. Booysen op die uitkyk wees vir simptome soos ʼn loopneus, vinnige, vlak asemhaling, kortasemheid en ʼn fluitgeluid in die bors, ʼn hoes, ʼn toe neus, lusteloosheid of geïrriteerdheid.

“Gevaartekens wat daarop dui dat hospitalisasie benodig word, is ʼn baba wat byna niks meer voeding inneem nie en ʼn baba wat blou om die mondjie vertoon. So ʼn baba benodig noodbehandeling en suurstof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andre ·

Ai tog , so jammer. Ek dink u is reg as u vra ouers moet hulle kinders by die huis hou indien hulle vermoed die kind is siekerig. Ek dink ons almal gaan maar hierdie winter versigtig moet wees as dit by verkoues en griep kom. Ek’s nie ‘n dokter nie maar ek vermoed na die corona virus wat die wereld in ‘n greep gehad het moet ons maar versigtig wees en kyk na ons gesondheid. Ek gaan verseker probeer om die winter ekstra versigtig te wees.

Jedi Knight ·

Nee wat Andre. As jy n masker dra, ingeënt is en 5 boosters gekry het, het jy niks om oor bekommerd te wees nie. Aldus die mediese kenners van 2020.

Sandra ·

Ek lees hierdie berig met baie begrip as ‘n ouer wat ‘n kind gehad het wat menigmaal in die hospitaal beland het. My probleem was dat my werkgewer nie juis empatie gehad het nie. Ek moes van my verlof inboet, wat ek met liefde gedoen het, maar ek voel regtig dat werkgewers met goedgesind moet raak, veral waar kinders gehospitaliseer word. 5 dae per jaar is niks…

Nettie ·

Mens kan regtig maar jou kind tydens sy eerste 2 jaar in ‘n “borrel” grootmaak as jy ‘n tuisbly mamma is. Hy kom niks oor daarvan nie, inteendeel. Dis wanneer sy immuunstelsel gebou word. Vat hom soms na ‘n maatjie of ‘n nefies toe, soms winkels toe of nooi familie oor, maar hy’t nie kleuterskool nodig nie. Hy verloor niks, inteendeel. Ek is dankbaar hierdie seuntjie het nie met sy lewe geboet nie. Hy is pragtig en so kosbaar.

George ·

Ongelukkig is dit gewoonlik die wat “pleit” wat hulle kinders wel stuur.

RissiepitAnna ·

My knapie is laas week gediagnoseer, en was in sy lewe nog nooit SO siek nie, koors by 41, op en af vir meer as n week nou. (al die simptome soos in die berig), Mense asseblief, dis nie n oordrewe storie of grap nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.