Ma steeds vol hoop al is dogter breindood ná mangeloperasie

Jahi McMath

Jahi McMath

ʼn 13-jarige dogter van Oakland in Amerika is Dinsdag breindood verklaar weens komplikasies ná ʼn mangeloperasie.

Regter Evelio Grillo van Alameda County het egter beslis dat Jahi McMath tot Maandag op lewensondersteuningsmasjiene gehou moet word, maar dat die familie teen dié besluit kan appelleer.

Jahi se mangels is op 9 Desember by die kinderhospitaal in Oakland uitgehaal, maar haar hart het kort daarna gaan stilstaan en suurstof na haar brein is afgesny. Volgens hofdokumente het dokters haar breindood verklaar nadat drie toetse gewys het daar is geen brein-aktiwiteit nie.

Alhoewel die dokters by die hospitaal aangedui het dat Jahi se toestand nie kan verander nie, het haar familie ʼn hofbevel bekom om haar op lewensondersteuningsmasjiene te hou totdat ʼn kenner haar kon ondersoek.

Paul Graham Fisher, ʼn pediatriese neuro-onkoloog by Stanford, het Jahi se saak hersien en Dinsdag in die hof bevestig dat sy aan alle kriteria voldoen vir iemand wat breindood is.

Grillo het beslis dat die hospitaal haar op ʼn ventilator moet hou tot 30 Desember om die familielede tyd te gun om te appelleer.

Hospitaal-administrateurs wou nie kommentaar lewer oor die saak nie weens die pasiënt se privaatheid.

Jahi se ma het egter gesê sy wil haar dogter ondersteun. “Dis my werk om dit te doen,” het Nailah Winkfield Maandag in ʼn onderhoud met CNN se “The Lead” gesê. “Ek wil haar net nog ʼn bietjie tyd gee. Daar is so baie verhale van mense wat wakker word.”

Bron: San Jose Mercury News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.