ʼn Vrou is Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind dat sy haar negejarige kind vermoor het omdat hy gerook het.
The Times het Vrydag berig die ma, van Delft, is skuldig bevind aan moord en poging tot moord. Sy is tot 11 jaar tronkstraf gevonnis.
Die vrou het verlede jaar paraffien oor haar twee kinders gegooi nadat sy hulle met sigarette betrap het. Die oudste seun het weggehardloop maar die negejarige kon nie daarin slaag om weg te kom nie. Die ma het hom toe aan die brand gesteek waarna hy ses weke later in die hospitaal gesterf het.
Die vrou was glo baie streng en oorbeskermend en toe sy uitvind hulle het gerook, was sy ontsteld. Sy het glo aan depressie gely en het twee keer vantevore probeer selfmoord pleeg. Die vrou sal vir berading gaan terwyl sy in die tronk is. Die oudste seun is tans in die sorg van die departement van welsyn in die Wes-Kaap en hy ontvang ook berading.
– Sapa