Ma wat glo 2-jarige vermoor het in hof

Tauriq Jacobs

ʼn Vrou wat daarvan verdink word dat sy haar tweejarige seuntjie vermoor het, het Dinsdag in die landdroshof in Mitchells Plain verskyn.

Zulpha Jacobs het ʼn pienk en grys top met ʼn kappie met ʼn blou kopband aangehad. Die staat het die borgtog teëgestaan vir haar eie veiligheid en weens die erns van die saak. Die ondersoek is nog nie afgehandel nie. ʼn Skare het vroeër buite die hof staan en sing en plakkate omhoog gehou. “Geen borgtog vir kindermoordenaars nie!” het op een plakkaat gestaan. ʼn Vrou uit die skare het ʼn plaaslike koerant met die hoofopskrif “Ma is glo ʼn pro” omhoog gehou met verwysing na die berigte dat die polisie glo die moontlikheid ondersoek dat sy meer van haar kinders vermoor het.

November Filander, woordvoerder van die polisie, het vroeër die week gesê dat Jacobs skuld erken het op die moord van haar tweejarige seuntjie, Tauriq. Sy liggaam is Saterdag omstreeks twee uur die middag in ʼn vlak graf in die duine agter die Imperial Laerskool in Beacon Valley gevind. Hy is Donderdagoggend laas by die ou busterminus in Mitchells Plain gewaar. ʼn Nadoodse ondersoek word glo gedoen omdat die oorsaak van sy dood nog nie bekend is nie. Jacobs sal ook aangekla word van verwaarlosing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.