Die Britse maatskappy vir wie veteraan-kameraman Dudley Saunders gewerk het, ondersoek die omstandighede van sy afsterwe.
Saunders is Maandag in Soweto deur ʼn trein getref terwyl hy kamerawerk vir Arrow Media se World’s Most Extreme gedoen het.
“Ons ondersoek die reeks gebeure wat tot die tragiese ongeluk gelei het en ons dink aan Dudley Saunders se familie en vriende in hierdie baie moeilike tyd,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.
Aanvanklike berigte het aangedui dat Saunders ten tyde van sy afsterwe kamerawerk vir die BBC gedoen het. Arrow Media het egter Dinsdag bevestig dat Saunders, wat in Johannesburg gebaseer was, besig was met kamerawerk vir dié maatskappy. Hulle is Maandagoggend van sy afsterwe ingelig.
Saunders het ʼn groot gedeelte van die onrus voor die verkiesing in 1994 afgeneem en het onlangs vir Special Assignment vir die SAUK en Carte Blanche vir M-Net gewerk.
Hy was die seun van die voormalige politieke joernalis Cliff Saunders.
Lees ook:
Bekende kameraman Dudley Saunders sterf