Maatskappy sê jammer na joernaliste in yskas toegesluit is

Vissery-beheerbeamptes meet kreef tydens ’n klopjag by die Food Lover’s Market. Foto: Felix Dlangamandla, Foto24

Fruit & Veg City Holdings het vir die media om verskoning gevra ná een van sy winkeleienaars Vrydag joernaliste in ʼn groot yskas toegesluit het.

Die joernaliste was saam die departement van landbou op ʼn klopjag by die Food Lover’s Market in Morningside, Sandton, ná gerugte dat die winkel kreef verkoop wat nie die wettige grootte, van 7.5cm, is nie. Die winkel se eienaar het joernaliste en fotograwe in die yskas toegesluit en aangedring dat hulle hul foto’s uitwis.

“Ons bevestig berigte dat lede van die media in die koelkamer toegesluit is,” het Brian Coppin, die maatskappy se hoofuitvoerendebeampte, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Coppin was die winkeleienaar, Ben Rubin, nooit ingelig dat media saam die departement daar is nie.

“Rubin het in ʼn verstaanbare aggressiewe manier opgetree toe hy die groep joernaliste in die koelkamer gewaar. Hy het nie vir hulle toestemming gegee om daar te wees nie. Die optrede is egter onverskoonbaar en ons vra die betrokke lede van die media om verskoning,” het Coppin gesê.

Coppin sê voorts die maatskappy het die kreef-dilemma hanteer en hul verskaffers met R50 000 beboet. Rubin se kettingwinkel is ook met R5 000 beboet. Dié geld gaan aan die Southern African Sustainable Seafood Initiative of die World Wildlife Fund geskenk word in hul geveg om seelewe te beskerm wat op die rooilys vir bedreigde diere geplaas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.