Madiba en Graça

Nelson Mandela en Graça Machel Foto: www.ezakwantu.com

Oudpresident Nelson Mandela was ten tye van sy dood met Graça Machel getroud – die enigste vrou ter wêreld wat al met twee staatshoofde getroud is.

Mandela is op 18 Julie 1998, op sy 80ste verjaarsdag, met Graça getroud. Sy was voorheen ook met die voormalige Mosambiekse president Samora Machel getroud tot met sy dood. Volgens inligting het Graça en Mandela kort na sy vrylating in 1990 ontmoet, maar het hulle eers in 1997 hul verhouding openbaar gemaak. Graça, ’n prokureur en aktivis vir kinderregte, was 52 jaar oud toe sy met Mandela getroud is.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal en Mandela se destydse persoonlike assistent, het in ʼn onderhoud met John Carlin gesê Mandela was verlief op haar. “Hy het aan my gesê dat sy ʼn pragtige glimlag het. En ek het gedink: ‘Sjoe, my baas is verlief.’ Hy was verlief op haar en dit was pragtig, want dit was nie iets wat opgemaak was nie. Dit was eg, en sy ook… Ek weet nie of jy hulle al ooit saam gesien het nie, maar daar is niemand anders in die vertrek as hulle twee saam is nie en ek dink dit is goed.”

Graça Simbine is op 17 Oktober 1945 in Gaza in Mosambiek gebore. Sy is wêreldwyd bekend as ʼn aktivis en vir haar toewyding aan Mosambiek en sy mense. Sy is in September 1975 met die Mosambiekse president Samora Machel getroud en in dieselfde jaar is sy as minister van onderwys aangewys. Mosambiek het ook in dié jaar, na ʼn langdurige bosoorlog, onafhanklikheid van Portugal verkry.

President Machel se regerende Frelimo-party het egter kort hierna in ʼn burgeroorlog met die rebellebeweging Renamo verval. Dié oorlog het die lewens van nagenoeg 900 000 mense geëis met meer as 2,4 miljoen mense wat ontwortel is. Die oorlog het ook gelei tot die vernietiging van die meerderheid van die land se skole en klinieke. ʼn Nuwe grondwet is in November 1990 aanvaar waarna ‘n vredesverdrag in Oktober 1992 tussen die Mosambiekse regering en die Renamo-beweging onderteken is. President Machel is op 19 Oktober 1986 in ʼn vliegtuigongeluk oorlede.

Graça beywer haar sedertdien vir vrede en versoening in Mosambiek en die heropbou en ontwikkeling van die land. Sy het haar veral ook ontferm oor die kinders van Mosambiek wat wees gelaat is na die verwoestende burgeroorlog. Sy is self die ma van twee kinders uit haar huwelik met Machel. Sy het reeds op verskeie komitees en aan die stuur van verskeie organisasies gedien waaronder Unesco se nasionale kommissie, die Verenigde Nasies en Unicef.

Graça gesels in dié video met Mike Hanna oor haar huwelik met Madiba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.