“Omstreeks 1:30 vanoggend het sy toestand agteruit gegaan en hy is in ʼn Pretoriase hospitaal opgeneem,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, gesê. Maharaj sê dokters doen alles in hulle vermoë om Mandela “beter en gemaklik” te maak. “President Jacob Zuma, namens die regering en die land, wens Madiba ʼn spoedige herstel toe en doen ʼn beroep op die media en die publiek om Madiba en sy familie se privaatheid te respekteer.”
Mandela is op 6 April uit die hospitaal ontslaan nadat hy vir nege dae lank behandeling ontvang het vir ʼn longkwaal. Hy is vroeg in Maart ook in die hospitaal opgeneem vir ʼn roetine-ondersoek en is die volgende dag ontslaan. Madiba het in Desember 18 dae in die hospitaal deurgebring nadat hy ʼn operasie ondergaan het om galstene te verwyder en behandeling te ontvang vir sy longkwaal.