Madiba: ‘Laat hom gaan’

Nelson Mandela. Foto: Debbie Yazbek/Nelson Mandela Stigting/SAPA

Oudpresident Nelson Mandela het ʼn tweede aand in die hospitaal deurgebring nadat hy Saterdag in die vroeë oggendure opgeneem is weens ʼn longinfeksie.

Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, het Saterdagoggend in ʼn verklaring gesê dat Mandela in ʼn “ernstige maar stabiele” toestand is. Daar is egter nog nie weer ʼn verklaring oor Mandela se toestand uitgereik nie. “Ek het my pa gesien en dit gaan goed met hom. Hy is ʼn vegter,” het sy dogter Zindzi Sondag aan The Guardian gesê. Die Sunday Times se hoofopskrif gister het gelees: “Dit is tyd om hom te laat gaan.” Dit is die vierder keer vanjaar wat Mandela in die hospitaal opgeneem is. Die presidensie het nie die naam van die hospitaal waar Mandela behandel word bekend gemaak nie maar talle familielede is by ‘n Pretoriase hospitaal waar die media uitkamp, opgemerk. “Ons wens Madiba ʼn spoedige herstel toe maar ek dink dit is belangrik dat sy familie hom moet laat gaan,” het Andrew Mlangeni, een van Mandela se vriende en ʼn medegevangene, aan die Sunday Times gesê. “Sodra sy familie hom laat gaan, sal die mense van Suid-Afrika dieselfde kan doen. Ons sal dankie sê vir God dat hy die man aan ons gegee het en ons sal hom ook laat gaan.” Graça Machel, Mandela se vrou, is aan haar man se sy nadat sy ʼn besoek na Londen gekanselleer het. Boodskappe van steun stroom intussen in terwyl mense landwyd vir Madiba bid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.