Madiba-“liefdeskinders” soek erkenning in boedel

Nelson Mandela

Nelson Mandela

Twee vroue wat beweer oud-pres. Nelson Mandela is hul pa, wil in Mandela se boedel erken word.

Familieverteenwoordigers van Onica Mothoa en Mpho Pule het kontak gemaak met Michael Katz, een van die twee prokureurs wat aangewys is om die Mandela se boedel te hanteer.

Katz het Sondagaand bevestig dat die vroue met hom in verbinding getree het. Mothoa en Pule se verteenwoordigers beweer Mandela is hul pa en dat hulle verwek is terwyl hy met sy eerste vrou, Evelyn Mase, getroud was.

Carte Blanche, die ondersoekende joernalistiekprogram op DStv, het Sondagaand berig die twee vroue se prokureurs het die meester van die hooggeregshof genader om die verdeling van geld, soos in Mandela se testament uiteengesit, te staak.

Adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke het verlede week in Johannesburg bekend gemaak dat Mandela se boedel sowat R46 miljoen werd is. “Die bedrag, wat tantieme regte uitsluit, moet nog geverifieer word,” het hy in daardie stadium gesê.

Mandela se testament is in 2004 opgestel en vir die laaste keer in 2008 aangepas.

Katz het gesê die twee soek net erkenning in Mandela se boedel en dat hulle nie geld soek nie. Katz het bygevoeg dat hy met die eksekuteurs van Mandela se boedel sal vergader om die kwessie te bespreek.

Tydens die program beweer die twee vroue se familielede dat hulle al in die verlede probeer het om met Mandela in verbinding te tree sodat hy hulle as sy dogters kan erken. Geen erkenning het plaasgevind nie. Mandela het glo een van hulle al ontmoet.

ʼn Regsverteenwoordiger van een van die vroue het aan Carte Blanche gesê hulle oorweeg om ʼn aansoek te bring om Mandela se DNS te toets om te bewys dat hy aan die vroue verwant is.

Die vroue, onderskeidelik van Hammanskraal en Bloemfontein, was oor die afgelope paar jaar gereeld in nuusberigte waarin hulle beweer hulle is Mandela se kinders.

In een van die mees onlangse gevalle was daar berig dat een van hulle toegang by die hospitaal in Pretoria geweier is toe sy hom wou gaan besoek het.

Volgens die uitsending was albei vroue toegang geweier toe Mandela op 15 Desember in Qunu in die Oos-Kaap begrawe is. Mandela het op 5 Desember gesterf. Die vrouens beweer hulle moes op TV sien hoe Mandela in staatsie by die Uniegebou gelê het. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petro Doman ·

Ja, hier kom dit nou! Ek kan nie onthou dat ek ooit iets in die media gelees het van die mense wat nou beweer hulle is sy dogters nie! Ek dink maar net dat die “catfight” lankal sou gebeur het as dit so was. Wys jou net, ne?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.