Die Reserwebank het Woensdag in Pretoria aangekondig dat banknote gaan verander en binnekort uitgereik gaan word met oudpresident Nelson Mandela se gesig daarop.
Die nuwe banknote sal die beeld van Mandela aan die een kant hê met een van die betrokke Groot Vyf-diere, wat op huidige note is, aan die ander kant.
Die nuwe R10-, R20-, R50-, R100- en R200-banknote sal dieselfde grootte as die huidige note wees om verwarring te voorkom.
Die Reserwebank sê die veldtog om die publiek van die nuwe note in te lig kos sowat R32 miljoen, berig RSG. Volgens die bank sal die nuwe note goed bemark word voor dit in sirkulasie geplaas word. ‘n Datum waarop die nuwe note uitgebring gaan word, is nog nie vasgestel nie.