Madiba se gesondheid dalk nie so rooskleurig nie

Oudpresident Nelson Mandela

Ten spyte daarvan dat ʼn kleinseun van oudpresident Nelson Mandela, asook voormalige president Thabo Mbeki, gesê het Madiba se gesond verbeter, het ʼn bekende joernalis, Debora Patta, ʼn ander storie gehoor.

Mandela (94) is vandag presies twee weke gelede in die Mediclinic Harthospitaal opgeneem weens ʼn “terugkerende longkwaal” soos die presidensie dit stel.

Patta het Vrydagaand, Amerikaanse tyd, namens CBS News berig dat bronne in die hospitaal bekend gemaak het dat Mandela se lewer en niere slegs 50% funksioneer en dat hy, onder andere, ʼn operasie moes ondergaan om ʼn bloeiende maagsweer te herstel.

Die nuusstasie berig hulle is ingelig dat Mandela vir dae nog nie sy oë oopgemaak het nie, en nie reageer nie. Die familie bespreek ook glo hoeveel mediese behandeling hy nog moet ontvang vir sy ouderdom en toestand. Kritici is bekommerd dat die familie en die regering Mandela se lyding verleng deur hom met masjiene aan die lewe te hou.

Die nuusstasie berig verder oor nog ʼn kinkel in die kabel. Mandela het glo twee weke gelede ʼn hartstilstand gehad en is daarna bygebring, waarna hy per ambulans van sy huis in Johannesburg na Pretoria gehaas is. Hy is in die middel van die nag na die hospitaal geneem, maar die ambulans het langs die pad onklaar geraak en was vir sowat 40 minute in koue weer gestrand voordat ʼn ander ambulans opgedaag het om Madiba by die hospitaal te kry.

Die presidensie het intussen aan CBS erken die ambulans het enjinprobleme ervaar, maar dat alle stappe geneem was om te sorg dat Mandela se gesondheid nie belemmer is nie, en dat sy dokters tevrede is dat sy gesondheid nie deur die voorval benadeel is nie.

CBS berig egter dat kardioloë met wie hulle gepraat het, meen enige vertraging in so ʼn geval, veral vir ’n man van Mandiba se ouderdom, rede tot ernstige kommer is. “Alhoewel dit moeilik is om te bepaal, kon dit ʼn groot impak op Madela se toestand gehad het,” het CBS berig.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Die man is 94! Hoe lank wil hulle nog sy lyding uitrek? Die feit dat die ambulans met die ANC se ikoon daarin onklaargeraak het en baie waardevolle tyd verlore gegaan het, sal die ANC-regering dalk hopelik tot nugtedenke ruk en hulle laat besef in watter gemors ons mediesedienste (staat) in die land is.

H J Bester ·

Die onklaar ambulans wys maar net daarop hoe ontoereikend onderhoud aan toerusting van die Staat is – alles val uitmekaar omdat onderhoud bykans nie bestaan nie.

Koos van Rooyen ·

Die man ly nie – hy is besig om sy straf vir ‘n misdadigers loopbaan uit te dien. Sy tyd van die ewige vuur het reeds begin. Laat gaan hom – hy het genoeg tyd gehad om reg te maak en het dit benede homself geag, want hy reken mos dat hý die mesias is.

Francois Hattingh ·

Die is nou die grootste nonsens.
Bly liewer net still.

Johan ·

Almal is geregtig op hulle eie kommentaar, dis ‘n demokratiese land. Bly JY liewer stil

Susan ·

Ek gaan dit so saggies as moontlik stel. Jy het ‘n poefies mentaliteit wat net poef kan uitdink !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.