Volgens die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) was oud-president Nelson Mandela se mediese span nie aan boord die militêre vliegtuig wat Woensdag in die Drakensberg geval het nie.
“Die berigte is verkeerd,” het Siphiwe Dlamini, hoof van kommunikasie by die SAW, gesê. Dlamini sê hulle sal binnekort meer inligting oor die ongeluk bekendmaak.
Xolani Mabanga, woordvoerder van die departement van kommunikasie by die SAW, het vroeër bevestig die wrak is opgespoor. Die Dakota-vliegtuig het van Waterkloof Lugmagbasis onderweg na Mthatha vermis geraak. Die vliegtuig was veronderstel om omstreeks 10:00 Woensdag in Mthata te land.
Dlamini wou nog nie bekendmaak hoeveel mense aan boord was toe dit geval het nie. Maroela Media het vroeër berig daar was 11 mense, insluitend bemanning, aan boord.