Madiba: Sekuriteit by hospitaal verskerp

Plaaslike en internasionale media kamp buite die hospitaal. Foto: Liela Magnus, SABC / Twitter

Polisie en metropolisiebeamptes beman die ingang na ʼn hospitaal in Arcadia, Pretoria, waar oudpresident Nelson Mandela behandeling vir ʼn herhalende longkwaal ontvang.

Ses polisiebeamptes bewaak die ingang van die hospitaal en alle voertuie wat die perseel binnegaan word deursoek. Ten spyte van die snerpende koue, kamp plaaslike en internasionale media by die hospitaal uit sedert Mandela Saterdag daar opgeneem is.

Die metropolisie het Maandagaand versperrings by die hospitaal opgerig en die media gevra om hul voertuie na die oorkant van die pad te skuif.

Intussen het die presidensie gesê president Jacob Zuma se besoek aan Mandela gaan diskreet plaasvind. Mac Maharaj, die presidensiële woordvoerder, het gesê Zuma wil nie die aandag van die kwynende staatsman aflei nie.

Die presidensie het Maandag gesê Madiba se toestand bly onveranderd en dat hy “ernstig maar stabiel” is. Dinsdag is Mandela se vierde dag in die hospitaal sedert hy Saterdag opgeneem is.

Mandela is op 6 April uit die hospitaal ontslaan nadat hy vir nege dae lank behandeling ontvang het vir ʼn longkwaal. Hy is vroeg in Maart ook in die hospitaal opgeneem vir ʼn roetine-ondersoek en is die volgende dag ontslaan. Madiba het in Desember 18 dae in die hospitaal deurgebring nadat hy ʼn operasie ondergaan het om galstene te verwyder en behandeling te ontvang vir sy longkwaal.

Lees ook:
ANC ontken Mandela-besoekverbod
Net familie glo by Madiba toegelaat
Madiba: ‘Laat hom gaan’
Madiba in hospitaal opgeneem

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre Schutte. ·

Sy naam is Nelson Mandela. Hy is nie Madiba nie. Julle joernalistiek is baie parydig, net soos Beeld s’n.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.