Madiba-skildery stel rekord op

Die skildery “Charity begins at home” deur Sifiso Ngcoba Foto: TimesLIVE

‘n Skildery van voormalige pres. Nelson Mandela het ‘n nuwe rekord opgestel as die hoogste bedrag ooit betaal vir ‘n werk deur ‘n lewende Suid-Afrikaanse kunstenaar by ‘n plaaslike veiling.

Die skildery het R3.7 miljoen by ‘n veiling tydens ‘n onlangse ANC-fondsinsameling behaal, het City Press berig. Die skildery, Charity begins at home, deur Sifiso Ngcobo, is deur Susan Shabangu, minister van mynwese, namens ‘n mynmagnaat aangeskaf. Volgens die koerant het William Kentridge vroeër dié rekord behou toe sy skildery, The Film, vir R2.2 miljoen in 2011 by ‘n veiling in Johannesburg verkoop is.

City Press berig verder dat die enigste werk deur ‘n lewende Suid-Afrikaanse kunstenaar wat al meer as R3.7 miljoen op enige plek in die wêreld behaal het, Kentridge se skildery, Preparing the Flute, is. Dié skildery is twee jaar gelede vir meer as R5 miljoen in New York verkoop.

Ngcobo het aan die City Press gesê sy skildery van pres. Jacob Zuma is in Desember by ‘n ANC-ete in Mpumalanga vir R1 miljoen aan ‘n sakeman verkoop. Dit was die eerste in ‘n reeks van 12 ANC-leiers. Hy sê hy het ‘n persentasie van die wins uit die veiling ontvang, en dat die ANC ‘n tweede Mandela-skildery aangevra het vir die persoon wat nie die veiling gewen het nie. Dié persoon het R3.5 miljoen vir die skildery aangebied.

Volgens City Press het nie een van die kunsgallerye, wat hulle die afgelope week vir kommentaar genader het, vantevore van Ngcoba gehoor nie. Klik hier om meer te lees.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.