Voormalige president Nelson Mandela is “gemaklik” en “reageer goed” op behandeling na herhalende longontsteking.
“Dokters het gesê Madiba het pleurale effusie opgedoen, wat toe dreineer is,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, in ‘n verklaring gesê. Pleurale effusie is wanneer oormaat vog in die pleurale lae, die voggevulde deel rondom die longe, opbou. “Gevolglik kan hy nou sonder probleme asemhaal. Hy reageer steeds goed op behandeling en is gemaklik.”
Mandela het Vrydagaand sy derde aand in die hospitaal deurgebring nadat hy Woensdag net voor middernag in ‘n onbekende hospitaal opgeneem is. “Die presidensie wil almal bedank wat vir hom bid en boodskappe van ondersteuning aanstuur,” het Maharaj gesê.