Madibeng-nagmerrie duur voort; R1 miljard weg – AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy kommer uitgespreek oor die voortslepende wanorde by die Madibeng-munisipaliteit in Brits. Dit volg na die kommerwekkende verslag wat die afgelope week deur die Ouditeur-Generaal, Terence Nombembe, en sy span opgestel is. AfriForum meen die wanorde is die gevolg van die wanbestuur en finansiële misdrywe deur munisipale amptenare.

“AfriForum ontvang weekliks klagtes oor Madibeng se swak dienslewering, wat dikwels onwettige krag- en selfs waterafsluitings insluit,” het Ian Cameron, AfriForum se organiseerder in Noordwes, gesê.

Die OG-verslag dui onder meer aan dat die munisipaliteit nie kan rekenskap gee van goedere ter waarde van oor die R1 miljard nie. Sekere begrotingsitems is ook verdag. Op die bateregister word twee houtpale, wat vermis word, byvoorbeeld aangedui as ʼn algehele verlies van R3 miljoen. Volgens Cameron is so ʼn paal nie meer as R1000 werd nie.

Om als te kroon, het Nasionale Tesourie besluit om R76 miljoen se betalings aan die munisipaliteit te onttrek en nog ʼn moontlike R35 miljoen wat in November 2012 aan die munisipaliteit toegeken is, terug te hou. AfriForum meen dat dienslewering in die Madibeng-wyke reeds onder druk is en dat die gemeenskap dikwels nie kry waarop hulle ingevolge die Grondwet en munisipale wetgewing geregtig is nie.

AfriForum sal met die departement van plaaslike regering en tradisionele sake in Noordwes kommunikeer om seker te maak dat die saak dadelik ondersoek word. Indien dit nie gebeur nie sal AfriForum met hul regspan vergader om te bepaal watter regstappe die organisasie kan doen om die departement te verplig om op te tree. Ingevolge artikel 106 van die Wet op Munisipale Stelsels moet die LUR van plaaslike regering ondersoek instel en optree indien daar enige vermoede van ʼn misdryf of misdrywe is.

Volgens AfriForum is dit uiters belangrik dat landsburgers betrokke raak by die openbare debat en die regering verantwoordelik hou vir die nakoming van sy pligte. “Ons moet die wet gebruik om seker te maak ons regte word beskerm ,” het Cameron gesê.

AfriForum moedig gemeenskappe aan om by takke aan te sluit om die stryd teen munisipale wanorde voort te sit. Om aan te sluit, SMS jou dorp se naam na 31488. SMS’e kos 50 sent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.