Madikizela-Mandela “geskok en verbaas” dat sy vervolg kan word

Winnie Madikizela-Mandela

Winnie Madikizela-Mandela is glo geskok deur kommentaar deur die nasionale vervolgingsgesag dat sy moontlik vir die dood van twee mans vervolg kan word.

“Mev. Mandela spreek haar skok en verbasing uit oor die verklaring wat deur ene Phindi Louw, namens die nasionale vervolgingsgesag (NPA) uitgereik is. In die verslag word daar genoem dat prosesse tans aan die gang is wat daartoe sal lei dat sy vir die afsterwe van Lolo Sono en Siboniso Tshabalala vervolg gaan word,” het Pops Templeton Mageza, Madikizela-Mandela se prokureur, gesê. “Volgens mev. Mandela se kennis is dié sake reeds omvattend tydens die Waarheid- en Versoeningskommissie (TRC) in oop, deursigtige publieke verhore wat op die televisie uitgesaai is, afgehandel.”

Louw kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Die oorskot van die twee mans is Dinsdag, 25 jaar ná hul verdwyning, opgegrawe. Die liggame is in Avalon-begraafplaas in Soweto opgespoor.

Mageza sê Madikizela-Mandela het aangebied om haarself by die TRC te verteenwoordig. “Die TRC het alle persone gedagvaar en voor die hof gedaag wat hom kon bystaan om tot ‘n gevolg te kom oor wat met dié twee kaders, wie se liggame nou uitgeken is, vermoor is. Dié getuies het wyle Xoliswa Falati, Jerry Richardson en mnr. Sono, Lolo se pa, ingesluit,” het Mageza gesê. “Die TRC het ‘n finale verslag oor die verdwyning van die twee mans uitgereik. Die TRC het bevind Sono en Tshabalala is deur Richardson vermoor.”

“Jerry Richardson het tydens sy verhoor gesê het hy dit gedoen, aangesien die oorledenes inligting aan die apartheidspolisie verskaf het oor twee MK [Umkhonto we Sizwe]-kaders, naamlik Tebogo Maluleke en Sipho Mbenenge.” Richardson het om amnestie aansoek gedoen by die TRC op grond van die feit dat Madikizela-Mandela hom aangesê het om die twee te vermoor. Die TRC het bevind dat daar geen stawende getuienis hiervoor bestaan nie. “Volgens mev. Mandela het die TRC slegs bevind dat sy nalatig was omdat sy nie in daardie stadium navraag gedoen het oor die afsterwe van die twee mans nie,” het Mageza gesê.

Piers Pigou, TRC-ondersoekbeampte, het inligting van Nasionale Intelligensie gebruik en bevind dat Richardson destyds R10 000 van die polisie af ontvang het om uit te wys waar Sono en Tshabalala se liggame begrawe is. George Fivaz, voormalige nasionale polisiekommissaris, het gesê Richardson wou nie die inligting bekend maak alvorens hy R10 000 ontvang het nie. Richardson is tot lewenslange tronkstraf vir die misdaad gevonnis, en hy is later in die gevangenis oorlede.

“Dit is moeilik om wetlik te bepaal hoe en watter nuwe bewyse oorweeg word, as die TRC soveel teenstrydige getuienis ontvang het en waarvan sommige nie in die hof toegelaat sal word nie. Die howe kan dus tot ‘n ander gevolgtrekking kom as die TRC,” het Mageza bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charles ·

Die wiel draai stadig maar hy draai,so sal almal nog rekenskap moet gee van hul dade en hul wandade.dit kan nie onder die karos gehou word nie,die karas raak te klein.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.