Madikizela-Mandela kap Zuma oor ‘onsensitiewe’ besoek

Winnie Madikizela-Mandela

Winnie Madikizela-Mandela, oudpres. Nelson Mandela se eksvrou, het president Jacob Zuma Sondag sterk gekritiseer oor sy en ander ANC-lede se besoek aan Mandela in April vanjaar.

Zuma, Cyril Ramaphosa, ANC-adjunkpresident, en Baleka Mbete, ANC-voorsitter, het Mandela op 29 April by sy huis besoek. Die besoek was sowat drie weke nadat Mandela uit die hospitaal ontslaan is nadat hy die derde keer in vyf maande opgeneem is vir ʼn longkwaal. Die SABC het beeldmateriaal van die besoek uitgesaai. Dit wys hoe Mandela in ʼn rusbank sit met ʼn kussing wat sy kop regop hou, sy bene en voete wat toegegooi is en hoe hy uitdrukkingloos voor hom uitstaar. “Ek kan nie eers in woorde beskryf hoe seergemaak die familie was nie. Dit was een van die mees onsensitiewe goed vir enigiemand om te doen,” het Madikizela-Mandela aan ITV News gesê. In uittreksels wat op ITV se webtuiste gepubliseer is, het Madikizela-Mandela gesê: “Dit was onsensitief, dit het die familie in gedrang gebring, sy waardigheid is in gedrang gebring en dit moes nooit gebeur het nie.” Zuma het destyds in ʼn onderhoud met die SABC gesê: “Ons het hom gesien, hy lyk baie goed, hy is in ʼn goeie toestand.”

Mandela is steeds in ʼn kritieke maar stabiele toestand in die hospitaal nadat hy op 8 Junie opgeneem is vir ʼn voortdurende longkwaal.

Die beeldmateriaal wat destyds deur die SABC uitgesaai is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.