Madikizela-Mandela se uitlatings ‘betreurenswaardig’

Die ANC sê hy was onbewus daarvan dat die familie van oudpres. Nelson Mandela ongelukkig is oor president Jacob Zuma en ander ANC-lede se besoek aan Mandela in April vanjaar.

Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, sê Winnie Madikizela-Mandela, Mandela se eksvrou, se uitlatings oor die besoek is betreurenswaardig. “Die ANC is op ʼn daaglikse basis in kontak met die Mandela-familie en die kwessies wat openbaar gemaak is deur Madikizela-Mandela is nog nooit voorheen geopper nie.” AFP het Sondag berig dat Madikizela-Mandela aan ITV News gesê het: “Ek kan nie eers in woorde beskryf hoe seergemaak die familie was nie. Dit was een van die mees onsensitiewe goed vir enigiemand om te doen.” In uittreksels wat op ITV se webtuiste gepubliseer is, het Madikizela-Mandela gesê: “Dit was onsensitief, dit het die familie in gedrang gebring, sy waardigheid is in gedrang gebring en dit moes nooit gebeur het nie.” Mthembu sê dié besoek was een van vele wat die ANC aan Mandela gemaak het ten einde hul ondersteuning aan hom en sy familie te wys.

Zuma, Cyril Ramaphosa, ANC-adjunkpresident, en Baleka Mbete, ANC-voorsitter, het Mandela op 29 April by sy huis besoek. Die besoek was sowat drie weke nadat Mandela uit die hospitaal ontslaan is nadat hy die derde keer in vyf maande opgeneem is vir ʼn longkwaal. Die SABC het beeldmateriaal van die besoek uitgesaai. Dit wys hoe Mandela in ʼn rusbank sit met ʼn kussing wat sy kop regop hou, sy bene en voete wat toegegooi is en hoe hy uitdrukkingloos voor hom uitstaar. Zuma het destyds in ʼn onderhoud met die SABC gesê: “Ons het hom gesien, hy lyk baie goed, hy is in ʼn goeie toestand.”

Mandela is steeds in ʼn kritieke maar stabiele toestand in die hospitaal nadat hy op 8 Junie opgeneem is vir ʼn voortdurende longkwaal.

Die beeldmateriaal wat destyds deur die SABC uitgesaai is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.