Mail & Guardian ‘gesensor’

Die redakteur van die Mail & Gaurdian, Nic Dawes, het die foto van Vrydag se voorblad op Twitter geplaas.

Die Mail & Guardian koerant het Vrydagoggend verskyn met die woorde “gesensor” wat groot oor sy voorblad geskryf is.

Onder die opskrif staan: “Ons kan nie die volledige berig vir jou wys nie weens ‘n bedreiging van kriminele vervolging.” Die redakteur van die Mail & Gaurdian, Nic Dawes, het op die sosiale netwerk Twitter geskryf dat die koerant nie ʼn artikel oor die presidensiële woordvoerder, Mac Maharaj, kan publiseer nie weens wetgewing van die nasionale vervolginsgesag (NVG). Die koerant het behalwe vir die woorde “gesensor” op sy voorblad, ʼn artikel in die koerant waar groot swart blokke aangebring is waar die storie gepubliseer sou word. Dawes sê die weekblad wou ʼn inligting publiseer rakende ʼn NVG-Artikel 28 onderhoud met Maharaj. Dawes sê dit is egter glo onwettig om dit te doen. Maharaj het intussen teruggekap deur te sê die Mail & Gaurdian het op ʼn onwettige wyse die dokumente rakende die onderhoud bekom. Maharaj sê die koerant probeer om sy aandadigheid in ʼn kriminele daad weg te steek onder die vaandel van mediavryheid en deur die aanroep van vrese van sensuur. Dawes sê volgens NVG-wetgewing kan ʼn persoon tot 15 jaar tronkstraf opgelê word indien Artikel 28-rekords openbaar gemaak word. Dawes sê die koerant het Woensdag vrae aan Maharaj gestuur. Hulle het glo Donderdag ʼn brief van sy regsverteenwoordigers ontvang waarin die koerant gewaarsku word dat hy moontlik krimineel vervolg kan word indien hy die storie publiseer. “Ons glo dat ons die volle reg het om inligting te publiseer wat ernstige vrae opper rakende die gedrag van die man wat namens die president praat”. Dawes sê die koerant moes ʼn aansoek indien by die nasionale direkteur van openbare vervolging om toestemming te kry om die inligting te publiseer. Die herrie kom te midde van kommer oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting wat tans voor die parlement is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.