Makaziwe nou hoof van Mandela-familie

Dr Makaziwe Mandela, enigste oorblywende dogter uit Nelson Mandela se huwelik met Evelyn Mase Foto: nelsonmandela.org

Dr Makaziwe Mandela, enigste oorblywende dogter uit Nelson Mandela se huwelik met Evelyn Mase Foto: nelsonmandela.org

Makaziwe Mandela, oud-president Nelson Mandela se oudste dogter, sal nou aan die hoof staan van die Mandela-familie.

“Daar is geen opvolgings- of dinastie-debat binne die Mandela-familie nie,” het Winnie Madikizela-Mandela, die oud staatsman se eksvrou, Woensdag in ʼn verklaring gesê. “Kragtens tradisionele wette is die oudste dogter, naamlik Makaziwe Mandela, nou die hoof van die familie en sy sal besluite maak met die ondersteuning van haar twee susters.”

“Mandla Mandela word gerespekteer as een van Madiba se kleinkinders, die volgende generasie van die Mandela-familie.”

Madikizela-Mandela het ook ontken dat daar ʼn familietwis binne die uitgebreide Mandela-familie bestaan, ondanks berigte van ʼn hernieude twis net na oud-president Nelson Mandela se afsterwe. Volgens talle mediaberigte het die familie Mandela se oudste kleinkind, Mandla Mandela, afgesny, maar Madikizela-Mandela het die “skelm insinuasies” en “apartheidstipe taktiek” veroordeel.

“Talle artikels het die idee geskep dat ʼn oorlog binne die Mandela-familie woed,” het Thato Mmereki, Madikizela-Mandela se woordvoerder, in die verklaring gesê. “Dié berigte gebruik halwe waarhede om die Mandela-familie in ʼn swak lig te plaas tydens hul routyd.”

Maroela Media het berig die slotte is by Mandela se huis in die Oos-Kaap verander net nadat sy oudste dogter, Makaziwe, Donderdag daar aangekom het. Dit was ʼn week ná haar pa se afsterwe en drie dae voor sy begrafnis. Krag- en watertoevoer is glo ook op die vooraand van Mandela se staatsbegrafnis in Qunu afgesny. Klik hier om meer te lees.

Mandla het van sy tannies beskuldig dat hulle beheer wil kry oor die Mandela-miljoene.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.