Makhado-waterprobleem draai in die hof

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, se regspan het Woensdagmiddag hofstukke by die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria teen die Vhembe-distriksmunisipaliteit in Limpopo ingedien. AfriForum doen dit in ʼn poging om ʼn dringende interdik te bekom om dié munisipaliteit te dwing om aan sy inwoners, wat al vir maande met ʼn watertekort sukkel, water te voorsien.

AfriForum het onlangs die distriksmunisipaliteit op terme geplaas om inwoners van Makhado (Louis Trichardt) van water te voorsien as verantwoordelike waterverskaffer, maar die munisipaliteit het nie op hierdie versoek gereageer nie.

Volgens Tiaan Esterhuizen, AfriForum se organiseerder in Limpopo, dui die munisipaliteit se “traak-my-nie-agtige-houding” daarop dat hulle nie hul grondwetlike plig teenoor inwoners ernstig opneem nie.

“Dit is waarom AfriForum die hooggeregshof nader om die erns van die saak by die munisipaliteit tuis te bring,” het Esterhuizen gesê.

Die vier respondente in die saak is die premier van Limpopo, Cassel Mathale, die minister van Waterwese, Edna Molewa, die Makhado-munisipaliteit en die Vhembe-distriksmunisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.