Malaria-gevalle in Mpumalanga

Argieffoto

Argieffoto

Minstens 15 mense in Hazyview, Mpumalanga is met malaria gediagnoseer, het die departement van gesondheid Woensdag gesê.

Die sake is sedert verlede week by Matikwane-hospitaal, in Mkhuhlu buite Hazyview, aangemeld,” het Ronnie Masilela, woordvoerder van die departement, gesê.

“Drie pasiënte word steeds in die hospitaal behandel en ontvang die beste sorg wat ons hulle kan bied.”

Masilela sê die departement wag op die uitslag van ʼn verslag om te bepaal of Vuyani Nkuna (43) van Goromane, dood is weens malaria. “Ons kan nog nie bevestig of hy weens malaria gesterf het nie,” het hy gesê. Nkuna se weduwee, Nopinki Bikisha (44) het gesê haar man is verlede week aan malaria dood. “My man het Maandag begin sweet en gesê hy voel swak en hy het hoofpyn gehad,” het Bikisha gesê. Sy het hom Dinsdag na ʼn kliniek toe geneem toe hy nie beter geword het nie. “Hulle het ʼn ambulans ontbied en hom na Matikwane-hospitaal geneem. Hy is daardie aand na Themba-hospitaal oorgeplaas. Hy is die volgende dag oorlede.”

Forgive Mokoena (21) en haar ma, Assa Mokoena (61) is verlede Dinsdag in die Matikwane-hospitaal opgeneem. “My rug het seer geword en ek het begin sweet,” het Forgive gesê. “Ek en my ma is hospitaal toe gestuur en is Donderdag ontslaan. Ek voel nog steeds nie gesond nie, alhoewel ek medisyne ontvang het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.