Malema aangekla ná onrus by myne

Johan Kruger en Dirk Hermann by die polisiestasie

Die vakbond Solidariteit het Woensdag aanklagtes van aanhitsing tot openbare geweld en intimidasie by die Lyttelton-polisiekantoor in Centurion teen die geskorste ANC-jeugligaleier, Julius Malema, aanhangig gemaak. Dié aanklagtes kom nadat Malema volgens berigte by verskeie myne onrus gestook het.

Solidariteit het die geweld vroeër die week by Gold One se Modder East-goudmyn by Springs aan Malema se uitlatings by Aurora se Grootvlei-myn toegeskryf, waar hy voormalige werknemers aangemoedig het om alle myne landwyd “onregeerbaar te maak”. Volgens berigte was van die werkers wat Malema toegespreek het afgedankte mynwerkers van Gold One.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê Malema se uitsprake rakende ʼn “mynrewolusie” in die land is kommerwekkend. “Die gewelddadige betogings by myne is nie iets wat spontaan gebeur nie. Hy lok geweld vir sy eie gewin uit. Malema is ʼn opportunis wat die onrus gebruik om sy loopbaan in die politiek weer op die been te probeer kry. Hy gaan voort om te probeer kapitaliseer op die Marikana-tragedie ten einde sy eie politieke agenda te dryf. Daar kan nie toegelaat word dat Malema ʼn skrikbewind voer en sodoende vrees onder buitelandse beleggers en Suid-Afrikaners saai nie.”

Kruger het bygevoeg dat Malema se uitsprake dat hy die myne onregeerbaar sal maak “totdat die boere na die tafel kom” boonop rassepolarisasie veroorsaak. “Die uitsprake polariseer mynwerkers en stel die werkers wat nie aan die onwettige aksies deelneem nie se lewens in gevaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.