Malema: Appèlhof hoor op 3 September haatspraakklagte aan

Die ANC en Julius Malema se haatspraak-appèl sal na verwagting op 3 September in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein aangehoor word.

“Die ANC het “stil-stil” teen waarnemende regter Leon Halgryn se uitspraak in Mei 2011 dat die woorde, “skiet die Boer (Dubul’iBhunu)”, haatspraak is en neerkom op aanstigting om moord te pleeg, appelleer,” het Willie Spies, regsverteenwoordiger van die burgerregte-organisasie, AfriForum, gesê.

AfriForum, wat ’n party was tot die Malema-haatspraakgeding, het versoek dat hul argumente ook aangehoor word. Spies het die griffier van die appèlhof gevra om reëlings te tref dat die Malema-haatspraak-appèl, asook die appèl rondom die onwettigheid van die woorde, “Dubul’iBhunu”, gelyktydig aangehoor word. “Ons wag nog op terugvoering van die griffier van die appèlhof hieromtrent, maar word deur die ander partye in die saak gesteun in die versoek dat al die sake gelyktydig aangehoor word,” het Spies gesê.

Intussen berei AfriForum se regspan haatspraakklagte teen Ronald Lamola, die adjunkpresident van die ANC Jeugliga, voor na aanleiding van ’n reeks uitsprake die afgelope twee weke. Lamola het volgens berigte tydens ’n lesing oor “ekonomiese vryheid” by die Durbanse Universiteit van Tegnologie jongmense aangemoedig om grond met geweld te neem.

Hy het ook vroeër in ’n TV-nuusoptrede te kenne gegee dat die Jeugliga nie “die Van Tonders en die Van Der Merwes se veiligheid kan waarborg” wanneer die jeug ongeduldig raak en hulle grond van wit eienaars terugneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.