Malema en kie: appèl-uitspraak

Julius Malema se appèl teen sy skorsing het misluk, het Cyril Ramaphosa, voorsitter van die ANC se nasionale tug-appèlkomitee (NDCA), Saterdag aangekondig.

Die uitspraak is tydens ʼn perskonferensie by Luthuli House in Johannesburg gelewer. Die appèlkomitee volstaan met die ANC se nasionale tugkomitee (NDC) se besluit dat Malema skuldig is dat hy verdeeldheid onder lede van die ANC gesaai het met sy uitsprake oor regimeverandering in Botswana. Malema se appèl teen ʼn aanklag dat hy die ANC se naam in 2010 tydens ʼn nasionale algemene raadsvergadering in Durban skade berokken het, was egter suksesvol.

Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC-jeugliga, adjunk-president Ronald Lamola, tesourier-generaal Pule Mabe, sekretarisgeneraal Sindiso Magaqa en adjunk-sekretaris-generaal Kenetswe Mosenogi het hul appèl baseer op die feit dat die oorspronklike uitspraak teen hulle onregverdig is, aangesien hulle nie die geleentheid gebied is om strafversagting te pleit nie. Die NDCA het ingestem en die saak terugverwys na die NDC. Malema sal dus sy vyfjaar-skorsing kan betwis.

Die ANC-jeugligaleiers het ook die geloofwaardigheid van verskeie NDC-lede, insluitend Susan Shabangu, Derek Hanekom en Collins Chabane in twyfel getrek. Ramaphosa het dié bewerings as “naïef” afgemaak.

Die ANC-jeugligaleiers is ook daarvan aangekla dat hulle ongenooid by ʼn vergadering van die ANC opgedaag en dié vergadering ontwrig het. Die NDC het hulle op dié aanklag skuldig bevind en hulle is gevolglik vir twee jaar geskors. Die skorsing is vir drie jaar opgeskort. Die appèl teen dié skorsing was suksesvol.

Shivambu se appèlaansoek nadat hy skuldig bevind is dat hy ʼn joernalis gevloek het, het ook misluk.

Die perskonferensie was geskeduleer vir 11:30 maar het eers omstreeks 13:40 begin. Ramaphosa het publiek om verskoning gevra vir die oponthoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.