Malema gaan nie meer “Skiet die Boer” sing nie

Julius Malema, die geskorste leier van die ANC-jeugliga, het Donderdagaand aan ʼn koerant gesê hy sal nie weer die struggle-liedjie, Dubula iBhunu (skiet die Boer) sing nie.

ʼn Historiese skikking is Woensdag tussen die ANC, AfriForum, TLU SA en Julius Malema in die opspraakwekkende haatspraak-geding bereik. Die skikking is Donderdag ’n bevel van die hoogste hof van appèl in Bloemfontein gemaak.

Malema het aan The Star gesê hy sal aanhou om sy kultuur te beoefen en sy erfenis te herdenk, maar dat hy sensitief sal wees teenoor ander gemeenskappe. “Ons moet ons mense opvoed oor ons kultuur in verband met ons geskiedenis, maar ons moet ook ons mense opvoed om sensitief te wees om nie ander gemeenskappe aanstoot te gee nie,” het Malema gesê.

Die skikking behels onder meer dat die:
• ANC en Malema erken dat sekere woorde in sekere struggle-liedjies as kwetsend en skadelik deur lede van minderheidsgemeenskappe ervaar kan word;
• ANC en Malema onderneem om hulle onderskeie ondersteuners en leierskap aan te raai en aan te moedig om met selfbeheersing op te tree om die ervaring van sulke kwetsing te vermy;
• partye ooreengekom het dat dit van kritiese belang is om wedersydse erkenning en respek te toon vir die reg van alle gemeenskappe om hulle kulturele erfenis en vryheid te vier en te beskerm; en
• partye hulle verbind het tot ʼn voortgesette formele dialoog tussen die leiers van die ANC, AfriForum, TLU SA en ander belanghebbendes om wedersydse begrip vir hulle onderskeie kulturele erfenisse en aspirasies te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.