Malema gaan parlement vra om “Skiet die boer” te beskerm

Die ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, sê die jeugliga sal die parlement vra om vryheidsliedere te beskerm.

Malema het Woensdag tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg gesê die Gelykheidshof het te ver gegaan deur die sing van die woorde “Skiet die boer” as haatspraak te verklaar en dit te verban. Malema sê die jeugliga sal die parlement versoek om wetgewing op te stel wat die lied “Dubula iBhunu” sal beskerm. Hy sê die jeugliga sal ook appelleer teen regter Colin Lamont se uitspraak. Malema sê Lamont het nie die begrip van ubuntu reg verstaan nie en dat hy die minderheid bevoordeel het met sy beslissing. Hy sê Lamont het AfriForum meer gegee as wat hulle voor gevra het deur die sing van die lied in privaat en openbare hoedanigheid te verban. Die jeugliga sê hy sal ʼn optog na die konstitusionele hof hou oor die kwessie. Malema het ook gesê dat dié saak, Robert McBride se opgeskorte vonnis vir dronkbestuur en Blou Bul-stut Bees Roux se boete van R750 000 nadat hy ʼn polisieman doodgemaak het, bewys daarvan is dat die reg nog nie getransformeer is nie en steeds minderhede beskerm. Malema het ook gesê dat hulle dit oorweeg om die media te verbied by jeugliga-byeenkomste aangesien die media volgens hom verkeerdelik rapporteer oor wat gesê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Heleen Prince ·

Joernaliste, bly dan weg… julle stilswye kan die jeugliga maak of breek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.