Malema haatspraak appèl binnekort aangehoor

Die appèl van Julius Malema en die ANC teen die beslissing van regter Colin Lamont in die gelykheidshof, dat die omstrede struggle-lied, “Dubula iBhunu” (Skiet die Boer) haatspraak is, gaan op 1 November in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein aangehoor word.

Die griffier van die hof het die partye Maandag in kennis gestel dat die saak op 1 November verhoor gaan word. Die saak volg op die herhaaldelike sing van die omstrede struggle-lied van die ANC deur sy voormalige jeugleier Julius Malema. Hoewel Malema intussen uit die ANC geskors is, is hy steeds saam met die ANC in ’n regstryd gewikkel om die sing van die omstrede lied gewettig te kry as deel van die ANC se erfenis.

AfriForum het Malema in Maart 2010 van haatspraak aangekla oor sy sing van die lied, onder meer by sy openbare toesprake as deel van sy veldtog vir die ekonomiese bevryding van die jeug. Malema het destyds, selfs nadat die interdik teen hom toegestaan is en enkele ure voor die opspraakwekkende moord op die oud-AWB leier Eugene Terre’blanche, die lied ook in Zimbabwe tydens ’n vergadering met die jeugvleuel van Robert Mugabe se Zanu-PF-party gesing.

Malema het onlangs weer die nuus gehaal toe dit bekend geword het dat hy die lied en verskeie variasies daarvan, tydens optredes by onrus-geteisterde myne in Noordwes en Gauteng gesing het. Malema het intussen ’n uitgesproke opponent van die ANC-leierskap geword, maar sy regspan hou vol dat daar ten opsigte van die haatspraak-appèl geen konflikte van belange tussen hom en die ANC bestaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae