Malema haatspraak-verhoor by MRK aangehoor, meer as 500 klagtes

ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Menseregtekommissie (MRK) se verhoor rakende klagtes van haatspraak teen die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, vind op 28 en 29 November in Braamfontein plaas, het die Afrikanerbond gesê.

Die hoofsekretaris van die Afrikanerbond, Jan Bosman, sê die verhoor volg op 3 klagtes oor haatspraak wat deur die Afrikanerbond by die MRK ingedien is. Meer as 500 klagtes van haatspraak teen Malema is reeds by die MRK ingedien. Die verhoor sou aanvanklik op 13 en 14 Oktober plaasgevind het maar is op versoek van Malema se regsverteenwoordigers uitgestel aangesien die ANC se dissiplinêre verhoor teen Malema steeds aan die gang was. Die Afrikanerbond het op 10 Maart 2010 ʼn eerste klag by die MRK ingedien nadat die media gerapporteer het oor Malema se sing van die woorde “dubulu iBhunu” (Skiet die boer). Malema het dit op Dinsdag 9 Maart 2010 aan die Universiteit van Johannesburg se Doornfontein kampus gesing. Die Afrikanerbond het op 23 Maart 2010 nog ʼn klagte ingedien na Malema weer dié woorde gesing het tydens ʼn vergadering in Mafikeng. Op 13 April 2010 het die Afrikanerbond ʼn derde klagte ingedien na Malema se tirade teenoor ʼn joernalis van die BBC. Verskeie organisasies, waaronder georganiseerde landbou en politieke partye, het klagtes van haatspraak by die MRK ingedien.

Bosman sê “dit is nou nodig vir ʼn Suid-Afrika sonder haatspraak en opruiende gedrag. Alhoewel die ANC tydelik ontslae is van Malema is die minderhede nog opgesaal met die uitsprake wat Malema gemaak het in sy bevordering van die Nasionale Demokratiese Revolusie.” Bosman sê hy hoop dat die MRK na die verhoor “ ʼn ondubbelsinnige en sterk uitspraak ten gunste van die nie-rassige waardes sal maak”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.