Malema-haatspraaksaak: Skikking veel beter as bevel, sê kenner

Prof. Koos Malan

Professor Koos Malan, ʼn regskenner aan die Universiteit van Pretoria, sê die skikking wat Woensdag tussen die partye gemaak is aangaande Julius Malema se haatspraaksaak, is veel beter as ʼn hofbevel.

Dit volg nadat die Vryheidsfront Plus gesê het die ANC kan nie vertrou word om ʼn skikking te onderhou waarvolgens hulle onderneem het om hulle lede aan te moedig om nie “Skiet die Boer” te sing nie. Maroela Media het vroeër berig die Vryheidsfront Plus sou ʼn hofbevel verwelkom het in die haatspraaksaak, aangesien dit duidelikheid sou bring en afdwingbaar sou wees.

Die ANC, Julius Malema, AfriForum en TLU SA het Woensdag ʼn historiese skikkingsooreenkoms in die haatspraaksaak onderteken, waarin die ANC en Malema erken dat sekere woorde in sekere “struggle”-liedjies as kwetsend beskou kan word. Hulle het onderneem om hul ondersteuners te oorreed en aan te moedig om hulle van kwetsende optrede te weerhou.

Prof. Malan het Donderdag aan Maroela Media gesê die skikking is veel beter as ʼn hofbevel en dat dit ʼn geskiedkundige gebeurtenis vir Suid-Afrika is. “ʼn Hofbevel is moeilik om af te dwing veral teen miljoene mense. Die meerderheid sal altyd teen ʼn bevel wil rebelleer as hulle nie daarmee saamstem nie en dit is dus dan moeilik afdwingbaar om strafregtelik teenoor mense op te tree. Met die skikking onderneem die ANC om saam te werk en om hul ondersteuners in te lig dat sekere ‘struggle’-liedjies kwetsend is,” het prof. Malan gesê.

Volgens prof. Malan plaas die skikking nie die ANC en sy volgelinge in ʼn posisie waarin hulle verneder word nie, en kan rebellie dus nie verwag word nie.

Hy sê voorts as die ANC faal om toe te sien dat sensitiewe “struggle”-liedjies nie gesing word nie, dit gaan bewys dat die ANC nie vertrou kan word nie en nie beheer oor hul eie ondersteuners kan uitoefen nie. “Verder sal dit ook wys dat die regering nie die openbare orde kan behou nie, so dit strek tot hul eie nadeel as hulle nie hul ondernemings kan nakom nie,” het prof. Malan bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.