Julius Malema, die geskorste leier van die ANC-jeugliga, het Donderdag weer in die Polokwane-landdroshof op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery verskyn.
Dit was Malema se derde verskyning in die hof in verband met sy Ratanang-familietrust. Malema word daarvan beskuldig dat hy glo sowat R4 miljoen uit korrupte aktiwiteite verdien het.
Malema het Donderdag die hofgeding afgeskop deur kapsie te maak, omdat die staat die saak wou uitstel. Hy het aangevoer hy is bevrees as die verhoor weer uitgestel word, sal dit die bekendstelling van sy nuwe politieke party beïnvloed.
Volgens Malema is dit moeilik vir hom om mense te vind om sy party te befonds en stemmers te werf, aangesien mense hulle nie met iemand wil vereenselwig wat geregtelik vervolg word nie.
Die staat en Malema se regsverteenwoordigers het Donderdag gestry of dié saak, wat moet beslis of Malema se verhoor na die hooggeregshof verwys moet word, uitgestel moet word en watter datum daarvoor bepaal moet word. Die hofgeding het tot laat Donderdagmiddag aangehou, waarna die saak tot Vrydag uitgestel is.
Malema is destyds op borgtog van R10 000 vrygelaat. Vier van sy beweerde sakevennote en medebeskuldigdes, Kagisho Dichabe, Lesiba Gwangwa, Helen Moreroa en Makgetsi Manthata, is borgtog van R40 000 elk toegestaan. Al vyf beskuldigdes het onskuldig gepleit.