Malema in sop oor neerhalende aanmerkings teen Indiërs

ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn Herrie het losgebars nadat die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, na Indiërs as “koelies” verwys het by ʼn saamtrek in Thembelihle, suid van Johannesburg.

Die Business Day berig Malema het gesê “bana ba lena ba tshwanetše ba dumelelwe gore ba tsene sekolo le bana ba makula mona [jou kinders moet toegelaat word om saam met “koelie” kinders skool te gaan]”. Meer as 600 inwoners het bymekaargekom om na Malema te luister. Malema sê die jeugliga en sy ondersteuners beplan om maksimum ontwrigting te veroorsaak tydens massa-optogte wat vir volgende week beplan is. Die leier van die Minority Front, Amichand Rajbansi, het met woede reageer op Malema se uitlatings. Rajbansi sê Malema doen groot skade aan maatskaplike samehorigheid en veelrassige harmonie. Hy het ʼn beroep gedoen op die ANC om stappe te doen teen sy jeugleier. Die ANC se woordvoerder, Keith Khoza, sê egter hulle is nie bewus van die voorval nie.

Die jeugliga beplan om op 27 en 28 Oktober optog te hou vir wat hy noem ekonomiese vryheid van die werkersklas en die armes. Die massa-optog sal in Gauteng gehou word waartydens daar aangedring sal word op die nasionalisering van myne en ʼn gelyke deel van die land se minerale hulpbronne. Die jeugliga se woordvoerder, Floyd Shivambu, sê die massa-aksie sal afskop by die Kamer van Mynwese waarna hulle na die Johannesburgse aandelebeurs sal betoog. Shivambu sê die aksie sal afgesluit word met ʼn nagwag by die Uniegebou in Pretoria. Die jeugliga sal ook ʼn memorandum oorhandig aan die uitvoerende gesag waarin hulle aandring op gratis onderwys, die onmiddellike afskaffing van die gebruik van arbeid makelaars, werksgeleenthede vir die jeug, beter behuising en sanitasie in informele nedersettings en toegang tot water.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.