Malema in warm water

Die tou span stywer om die geskorste ANC-jeugligaleier, Julius Malema, se nek. City Press berig die taksman, Openbare Beskermer én Valke is agter sy bloed aan.

Die koerant is in besit van ʼn verslag van Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, wat beweer daar is ongerymdhede met ʼn R52 miljoen tender wat aan On-Point Engineers in Limpopo toegestaan is. Malema se Ratanang-familietrust is een van die twee aandeelhouers in On-Point.

Alhoewel Madonsela nie enige bewyse het dat Malema met die tenderproses ingemeng het nie, het sy bevind dat die familietrust onbehoorlik daarby gebaat het. Sy het gesê dat wettige stappe gedoen moet word om die geld te verhaal.

Malema moet volgende week in die Polokwane-streekshof verskyn op aanklagte van bedrog en geldverduistering in verband met die On-Point tender. ʼn Lasbrief vir Malema se inhegtenisname is reeds Vrydag uitgereik.

Malema skuld ook R16 miljoen in onbetaalde belasting aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). City Press berig dat Malema nie die SAID se saak, wat op 11 September in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor is, teenstaan nie. Adrian Lackay, ‘n woordvoerder vir SAID, het bevestig dat Malema die geld skuld.

Malema is ook in die Valke se visier. Maroela Media het Vrydag berig dat die vakbond Solidariteit ʼn 10-bladsy verslag aan die Valke oorhandig het om hulle met hul ondersoek teen Malema by te staan.

Die Valke het verlede Sondag bevestig dat hy aanklagte van aanhitsing tot geweld en intimidasie teen Malema ondersoek ná die onlangse onrus by Lonmin se Marikana-myn en by ander myne in Noordwes en Gauteng. (Lees meer hier)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.