Malema kry nóg klagte teen hom

Johan Kruger en Dirk Hermann by die polisiestasie waar daar verlede week ook 'n klag teen Julius Malema gemaak is.

Die vakbond Solidariteit het Woensdag nóg ’n strafregtelike klag van aanstigting tot openbare geweld en intimidasie teen die geskorste ANC-jeugligaleier, Julius Malema, aanhangig gemaak.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die nuutste klag teen Malema kom nadat hy gister mynwerkers by die Goldfields-myn naby Carletonville toegespreek het en ’n beroep op alle mynwerkers gedoen het om met ’n landwye staking te begin. “Die klag wat Solidariteit vandag teen Malema aanhangig gemaak het, sal by die klagstaat gevoeg word aangesien die vakbond reeds verlede week ’n klag van aanstigting tot openbare geweld en intimidasie teen hom aanhangig gemaak het by die Lyttelton-polisiekantoor in Centurion. Dié stap is geneem nadat geweld by Gold One se Modder East-goudmyn by Springs uitgebreek het ná Malema mynwerkers toegespreek het. Solidariteit meen daar moet dringend opgetree word om te verseker dat Malema verhoed word om sy opruiende uitsprake en sogenaamde mynrewolusie voort te sit.”

Kruger sê Solidariteit is baie bekommerd oor die veiligheid van beide sy lede op die myne en ander Suid-Afrikaners. “Malema se skrikbewind kan nie toegelaat word om voort te gaan nie, want dit wek kommer en vrees by gewone Suid-Afrikaners. Malema speel ’n gevaarlike speletjie deur mynwerkers uit te buit en geweld vir eie gewin uit te lok ten koste van stabiliteit in die land. Malema is ’n opportunis wat die onrus by die myne gebruik om sy politieke loopbaan weer op die been te probeer kry. Hy gaan voort om te probeer munt slaan uit die Marikana-tragedie ten einde sy eie politieke agenda te dryf.”

Kruger sê Solidariteit sal Malema se beplande toespraak aan lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag vandag en enige ander soortgelyke byeenkomste fyn dophou en, indien nodig, nog aanklagte teen Malema aanhangig maak as hy voortgaan om opruiende toesprake in die openbaar te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.