Malema reeds volgende week in hof

Julius Malema

Julius Malema se regslui het bevestig dat hy volgende week in die hof in Polokwane moet verskyn. Dit volg nadat ʼn lasbrief vir Malema se inhegtenisname Vrydag uitgereik is.

Sy prokureur, Nicqui Galaktiou, het aan Sapa gesê hulle is in kennis gestel dat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik is. “Ons weet nog nie watter hof dit gaan wees nie en is besig om met owerhede te kommunikeer, maar dit sal in Polokwane wees,” het sy gesê.

Sy het gesê dat Malema nog nie in hegtenis geneem is nie. “Soos ons dit verstaan, gaan hy nie in hegtenis geneem word voor hy in die hof moet verskyn nie. Ons weet ook nog nie wat die aanklagte is nie,” het sy bygevoeg.

Intussen het die burgerregte-organisasie AfriForum, wat verlede jaar op 24 Julie ʼn klag van korrupsie teen Malema by die polisie ingedien het, die nuus oor die uitreiking van die lasbrief verwelkom.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die Valke en AfriForum se eie ondersoekeenheid geluk gewens met die professionele wyse waarop hulle hul onderskeie ondersoeke teen Malema aangepak het, wat uiteindelik tot die uitreiking van die lasbrief aanleiding gegee het.

AfriForum se klag teen Malema is destyds in terme van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede (Wet 12 van 2004) by die Brooklyn polisiestasie in Pretoria ingedien. Dié klag het verband gehou met die feit dat Malema na bewering die Ratanang Familie Trust, waarvan hy die enigste trustee is, sou gebruik as voertuig om betaling van besigheidspersone te ontvang, in ruil vir sy hulp aan dié besigheidspersone om regeringstenders te bekom.

Volgens Kriel stuur die uitreiking van die lasbrief ʼn baie duidelike boodskap aan alle leiersfigure dat niemand bo die reg verhewe is nie. “Malema het hom misgis deur te dink dat hy onaantasbaar is,” het Kriel gesê.

Volgens Kriel is dit skandalig dat iemand soos Malema, wat daarop roem dat hy armes verteenwoordig, volgens die uitslag van die ondersoeke teen hom die staatskas help plunder het om homself te verryk ten koste van dienslewering aan behoeftiges.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.