Malema sakevennote op borg vrygelaat

Vier sakevennote van die geskorste ANC-jeugligaleier, Julius Malema, is Dinsdag in die Polokwane-landdroshof op borgtog vrygelaat.

Kagisho Dichabe, Lesiba Gwangwa, Helen Moreroa en Selby Manthata is op borgtog van R40 000 elk vrygelaat. Vier maatskappye is op die klagstaat aangedui: Segwalo Consulting, On-Point Engineers, Gwama Consulting en Oceanside Trading. Landdros Janine Ungerer het beveel dat die vier mans hulle paspoorte inhandig. Die mans het onskuldig gepleit op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery. Volgens die staat het die vier mans hulself wanvoorgestel aan die departement van paaie en vervoer in Limpopo en dat ʼn tender van R52 miljoen aan een van die beskuldigdes toegeken is. McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, sê die mans sal op 30 November weer in die hof verskyn.

Volgens ʼn berig in die City Press het Thuli Madonsela, die openbare beskermer, bevind dat Malema miljoene gemaak het van die R52 miljoen tender. Hoewel Madonsela geen bewyse kon vind dat Malema ingemeng het in die tenderproses nie, het sy wel bevind dat Malema “onbehoorlik” by die kontrak gebaat het.

Malema sal Woensdagoggend in die Polokwane distrikshof verskyn op aanklagte van bedrog en geldwassery. Die polisie sê streng veiligheidsmaatreëls sal geld. Daar sal ook vanaand ʼn nagwaak in Polokwane gehou word in aanloop tot Malema se verskyning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.